MOSSELBAAI NUUS - 'n Voorval die naweek by die bekende Santos Express Train Lodge wys weer eens hoe vlambaar situasies kan word wat werkgewers en werknemers moet hanteer.
'n Plaaslike klant het by die Santos Express sonder 'n masker gearriveer. Hy is egter volgens die Covid-19-protokol toegang geweier, hoewel hy sy masker tydens ete mag verwyder.
'n Onderonsie het tussen personeel en die man ontstaan, waarna hy sy vuurwapen, wat op sy sy was, aan hulle gewys het. Dit het egter nie die personeel afgeskrik nie en die man is boos met 'n CBS-geregistreerde voertuig daar weg.
Volgens die polisie op Mosselbaai is geen saak by die polisie aangemeld nie, omdat die man nie die vuurwapen op iemand gerig het nie wat dan 'n baie ernstige oortreding sou wees.
Debbie Vallentyn, bestuurder by Santos Express het aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die eienaar van besighede sulke gevalle dadelik by hul polisie se sektorvoertuig moet aanmeld om 'n vinnige reaksietyd te bewerkstellig.
Meeste van die tyd is dit 'n weerlose werknemer wat so 'n situasie moet hanteer, veral in die lig van die nuwe beperkings wat tans ingestel is en mense wat sekerlik ook teen die tyd redelik moedeloos en opgewerk oor die Covid-19-pandemie is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'