MOSSELBAAI NUUS - Organiseerders van die immergewilde Mosselbaai Kerskunsmark meen dat Covid-19 nie hulle beplanning in die wiele gaan ry nie. Hierdie mark word vanjaar vir die 16de keer aangebied en vind plaas vanaf 16-18 Desember.
Dit word gehou in die kerksaal van die NG Mosselbaai Suid-gemeente, hoek van 15de en 17de lane.
Die mark kan daagliks vanaf 08:00-16:00 besoek word om Kersinkopies teen winskooppryse te doen.
Produkte sluit in gebak, koekies en beskuit, geverfde T-hemde vir kinders, asook speelgoed.
Daar is te kus en te keur uit naald-, hout- en kralewerk, boeke, draad- en herwinningsprodukte, plante en vetplante en meer. Lekkernye sluit in souse, lekkers en heuning. Daar is ook juwele, klere, skilderye, fotorame en dies meer te koop. "Kom koop iets vir jou hond of kom snuffel andersins net."
Vanjaar word versoek dat besoekers, indien moontlik, die plaaslike DBV tydens die mark ondersteun deur honde- of katkos te skenk.
"Heerlike eet- en drinkgoed asook middagetes en snoeperye is elke dag beskikbaar. Kom geniet gerus hierdie plattelandse vakansie-ervaring."
Vir stalletjiebesprekings of inligting, kontak Cecile (082 224 3865).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'