MOSSELBAAI NUUS - Met die jaar wat nog in sy kinderskoene is, is jou kind dalk nie meer so "kinderlik" nie. Baie ouers vind die tienerjare 'n groot uitdaging.
Stefanie Minnaar van Caritas Care, 'n sentrum vir pastorale terapie, bied 'n reeks artikels waarin sy hierdie interessante fase in groeiende kinders se lewens, sinvol verpak. Sy spesialiseer daarin om met ouers van tieners te werk.
'Extraordinary'
In 'n artikel in Times-tydskrif in 2015 getiteld, In praise of the ordinary child, skryf Jeffrey Kluger: "It is time to rethink what it means to be exceptional - and whether being No.1 is worth pursuing at all".
In 2015 het dié artikel die manier waarop ek my kinders groot gemaak het vir altyd verander. My kinders was toe 10 en 11 jaar oud. Hoe wonderlik sal dit nie wees nie as elke ouer van 'n laerskoolkind dié artikel kan lees.
Jeffrey Kluger skryf dat 99% van volwassenes net gewoon gemiddelde mense is, maar hulle maak hulle kinders groot asof die kinders extraordinary is, asof hul kind daardie 1% uitsonderlik gaan wees. So wys die kind op laerskool 'n rugbytalent, dan gaan hy eendag vir seker vir sy Provinsie of vir die Springbokke speel eendag en 'n brein vir wiskunde gaan vir seker 'n aktuaris word.
Kinders koop in in hierdie idee dat hul daardie 1% uitsonderlik is. Met ekstra klasse en privaat lesse, verkoop ouers eintlik die leuen dat die ekstra aktiwiteite sukses gaan verseker.
Wanneer die kind dan nie die top 10 of die eerstespan haal nie, voel die kind (en die ouer) soos mislukkings. As die ouer op skool presteer het, moet die kind ook presteer.
As die ouer nie op skool presteer het nie, moet die kind opmaak daarvoor en dan word daar vir die kind gesê: "Ons gee vir jou al die geleenthede wat ons nie gehad het nie so ons verwag dat jy jou beste sal gee elke dag".
'n Ander manier
Genoeg. Daar moet 'n plek tussen-in wees waar die kind net kan wees en doen waarvoor hy lief is en waar die ouers wat kinders druk om uitsonderlik te wees sal aanvaar dat hul kind net gewoon en gemiddeld is -soos hulself.
Jy kan jou kind inskryf in soveel klasse/lesse as wat jy kan bekostig, maar as jou kind dit doen omdat jy dit kan bekostig in plaas daarvan om lief te wees daarvoor, gaan hy dit net sover bring.
Ons almal ken kinders wat uitblink in 'n sport of musiekinstrument en dan in graad 10/11 dit laat vaar.
Die belangstelling moet van binne af kom om die kind deur die tienerjare gemotiveerd te hou. Soos David Beckham wat byvoorbeeld elke aand met sy sokkerbal in die bed geklim het.
In die boek, The Conscious Parent skryf dr Shefali Tsabary, dat ouers die manier hoe hulle hul kind sien, moet verander. Jou kind is reeds waardig, volmaak en heel soos hy of sy daar voor jou staan.
Maar ons as ouers maak ons kinders groot vir die toekoms ten koste van konneksie. Ons dreig, baklei en fix ons kinders met ekstra klasse/ lesse en besige skedules sodat hulle "ten volle kan ontwikkel" en eendag suksevol kan wees.
Sukses vir ons beteken goeie punte, universiteitstoelating, graad kry, goeie werk kry wat sekuriteit gaan gee en dan, glo ons, sal ons kinders gelukkig wees.
Vrese
Ouers van tieners se grootste vrees is dat hul tiener nie suksesvol gaan wees na skool nie. Met die tipiese tienergedrag van 'n deurmekaarkamer, heeltyd net lê en op hul selfone besig wees en nie worry oor skoolwerk nie, verhoog die ouers se vrees nog meer en oefen hulle nog meer beheer en straf uit. En die kinders betaal die prys.
Die kinders (veral die wat akademies goed presteer), word gedwing in studierigtings waar hul goeie geld kan verdien in plaas daarvan om dit te gaan doen waarvoor hulle 'n liefde het.
Dit is moontlik om 'n sielsongelukkige miljoenêr groot te maak net soos wat dit moontlik is om 'n dolgelukkige maatskaplike werker groot te maak.
Soos J Warren Welch skryf: "Your children are not a masterpiece that you create. They are their own masterpiece creating themselves, and you have been given the privilege of watching them be the artist."
Besoek Stefanie se Facebookblad Ouer-Tiener Harmonie. Kontak Caritas Care - Mosselbaai 071 473 0507) en George (072 352 7610).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'