MOSSELBAAI NUUS - Die jongman wat in die vroeë oggendure van Saterdag, 10 November op die N2 naby Hartenbos verongeluk het, het ure tevore nog by die kleuterskool waar sy ma jarelank al werk, as vrywilliger uitgehelp.
Curtley Jordaan (20) was onderweg vanaf Mosselbaai in die rigting van George toe die fatale botsing tussen 01:00 en 02:00 plaasgevind het. Jordaan het vermoedelik beheer oor die voertuig, 'n wit Isuzu-bakkie verloor waarna dit onder meer teen 'n sement pilaar gebots het, volgens die Da Gamaskop-polisie.
Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.
Leon Jordaan, Curtley se pa sê sy seun is omstreeks 01:45 op die ongelukstoneel deur nooddienspersoneel dood verklaar. Curtley het bestuur en was alleen in die voertuig wat hy en sy pa soms gebruik het, juis vir die vervoer van dekor vir die skoolkonsert.
Curtley se ma, Lucille is 'n onderwyseres by Kid's Kingdom-kleuterskool, daarom was Leon en Curtley so betrokke by die skooltjie en is die gesin huisvriende van die eienaar, Georgia Argyropoulos en haar man, Mario.
"Omdat ek as nutsman by die kleuterskool help, het Curtley gereeld saam ingespring," het Leon vandeesweek aan die Mossel Bay Advertiser gesê. Dit blyk asof sy hulpvaardigheid een van Curtley se uitstaande eienskappe was.
Curtley Jordaan.
Georgia Argyropoulos het in 'n facebook-inskrywing Curtley se dood as 'n tragedie beskryf. Sy het ook by navraag vandeesweek verwys na Curtley se toegewyde hulp as vrywilliger by haar kleuterskool, sedert sy tienerjare.
"Curtley help al vyf agtereenvolgende jaar met ons jaareindfunksie. Hy het verlede Vrydagaand tot omtrent 22:00 nog uitgehelp."
Leon beskryf Curtley as iemand wat baie gou vriende gemaak het. Uit facebook-kommentaar aangaande sy dood, blyk dit ook sterk dat Curtley se innemende geaardheid iets besonders was.
'n Privaat verassing word vir Curtley gehou, maar diegene wat graag sy gedenkdiens wil bywoon kan op 24 November om 11:00 byeenkom by die Koninkryksaal vir Jehova-getuies, hoek van Sederstraat en Ysterhoutsingel.
Georgia Argyropoulos het in 'n facebook-inskrywing Curtley se dood as 'n tragedie beskryf.
Lees 'n vorige artikel: Botsing eis jong lewe
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'