MOSSELBAAI NUUS - 'n Twintigjarige man van Mosselbaai, Curtley Jordaan se dood as gevolg van 'n motorbotsing op die N2 Saterdagoggend, 10 November het Mosselbaaiers geskok.
Jordaan het bestuur en was alleen in die voertuig, 'n wit dubbelkajuit Isuzu-bakke, ten tye van die voorval.
Volgens inligting verskaf deur die Da Gamaskop-polisie het die voorval tussen 01:00-02:00 net voor die Hartenbosrivier op die N2 plaasgevind. Jordaan was glo vanaf Mosselbaai in die rigting van George op pad.
Daar word vermoed dat hy beheer oor die voertuig verloor het waarna dit onder meer teen 'n sementpliaar gebots het.
Jordaan se ma is werksaam by 'n kleuterskool in Mosselbaai.
Die eienaar van die skool, Georgia Argyropoulos het in 'n facebook-inskrywing op haar persoonlike blad na Jordaan se dood as 'n tragedie verwys. Sy het hom geloof vir sy betrokkenheid by die skool, waar hy sedert sy hoërskooljare as vrywilliger uitgehelp het. Haar facebook-inskrywing het wye reaksie en veral simpatie met Jordaan se ouers ontlok.
Nooddienswerkers op die toneel waar 'n botsing op die N2 Saterdagoggend 'n jong Mosselbaaier se lewe geëis het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'