Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Tydens 'n internasioanle hengelkompetisie tussen Suid-Afrika en Namibië wat Donderdag, 8 Desember in Jeffreysbaai ten einde geloop het, het 'n plaaslike jong seun uitstekend gevaar in die o/16-afdeling.
Walter van Rensburg (14) is 'n kranige sportman wat 'n leerder was by Laerskool Park en vir sy hoërskool-loopbaan is hy tans by Hoërskool Outeniqua op George.
Hy het as sesjarige begin visvang nadat mamma Liezel hom as baba al saamgevat het na die viswaters. Natuurlik was pa Johan die bron van inspirasie maar die hele gesin asook broer JL is kranige hengelaars.
Walter het in 2017 op negejarige ouderdom by die Mosselbaai hengelklub aangesluit waar hy verdere visvangtegnieke aangeleer het en sommer gou opgang gemaak.
"Hy is minstens die vierde geslag Van Rensburg-boorling van Mosselbaai," sê pa Johan.
In 2021 is hy gekies vir die o/16 Eden kushengelspan om gedurende Januarie 2022 aan die nasionale kampioenskap in Struisbaai deel te neem. Hier het Eden die toernooi gewen en Walter was dan ook bevoorreg genoeg om die meeste punte gedurende die week te maak en het die trofee vir die beste hengelaar ontvang. "Sover ons kennis strek, is hy die jongste hengelaar nog om dit reg te kry," sê Johan.
Na die nasionale kampioenskappe dié jaar is hy gekies vir die o/16 Protea-span wat in Jeffreysbaai teen Namibië gaan hengel het. Sondag en Maandag, 4 en 5 Desember het hulle kans gehad om te oefen en vanaf Dinsdag, 6 Desember tot Donderdag, 8 Desember kon hulle op 'n 6km strook hengel vir die kompetisie.
Die kompetisie het in verskeie kategorieë plaasgevind. Daar is die Protea o/16, o/21, seniors, meester, groot meesters en vroue-span.
Walter vang toe 'n skeurtandhaai van 168kg waarmee hy so 'n halfuur lank gespook het om te land. Verder het hy 'n kombinasie van eetbare en nie-eetbare vis gevang om 'n totaal van 185,67kg vir die drie dae se hengel in te weeg. Met die totaal is hy ook as algehele beste o/16-hengelaar beloon en algeheel het hy tweede geeïndig. Sy span het ook die o/16-titel verower en Suid-Afrika het die kompetisie teen Namibië gewen.
Walter is 'n opkomende hengelaar wat defnitief 'n merk gaan maak in die hengelkringe. Die volgende nasionale kushengel toernooi vind van 9-13 Januarie 2023 aan die Weskus plaas waar hy deel van die span is om Eden se nasionale titel te verdedig.
VIDEO - Jong Protea hengelaar presteer (Video: Jannie du Plessis).
Walter van Rensburg (14) en sy span het baie goed presteer.
Walter van Rensburg (14) met die pragtige skeurtandhaai van 168kg wat hy tydens die hengelkompetisie in Jeffreysbaai gevang het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'