MOSSELBAAI NUUS - ‘n Inskrywing deur die Mosselbaai-munisipaliteit op sosiale media waarin inwoners herinner word dat, op versoek van die Suid-Afrikaanse polisie, geen wegneemprodukte in die parkeerareas by die Punt geniet mag word nie, het wye reaksie ontlok.
Met die inskrywing onder die opskrif: ‘Goeie Nuus’, sê die munisipaliteit dat roomys nou wel by die rondawel-roomysstalletjie by die Punt gekoop kan word.
Die inskrywing lees verder: “Die SA Polisie vra inwoners om die wegneem-verversings nie in hul voertuie in die parkeerareas in die omgewing te geniet nie, maar om dit tuis/by die kantoor te gaan geniet. Die beginsel geld ongelukkig steeds dat inwoners slegs hul huise moet verlaat vir noodsaaklike redes, soos om noodsaaklike dienste te verrig, kos te koop of om mediese sorg te bekom.“
346 kommentare het daarop gevolg.
John Volkwyn skryf: “Really people??? What a joke...there are thousands of people in this area that is suffering without income...why would the Municipality allow this whereas other business still hasn't re-opened...why not open the hairdressers, building contractors, cleaners, etc. Why not all other ice cream vendors or eg. chip n dip stands...why only this ice cream business...totally absurd...open beaches and stop this absurd 6 to 9 exercise period...just as well.” (Sic)
Matty Slabbert van Jaarsveld, skryf: “Ja roomys koop is reg maar jy mag net jou huis verlaat wanneer dit absoluut noodsaaklik is. So maak asseblief baie seker dat dit van noodsaaklike belang is voor jy die noodsaaklike roomys aankope doen.” (Sic)
André Kritzinger, skryf: “Die roomys gaan smelt laaank voor ek by die huis kom. Nóg n lagwekkende besluit. En hoe gaan ek in die eerste plek die roomys in die hande kry? Afgelewer by my huis?” (Sic)
Nog 'n kommentaar lui: "So jy mag nie om die punt ry nie maar jy mag roomys koop. Jy mag nie op die strand stap nie en gladnie surf nie. miskien moet die surfers n roomys koop en gaan surf. Klink na n plan." (Sic)
Die munisipaliteit het in reaksie op verskeie kommentare geantwoord dat dit nie 'n besluit deur die munisipaliteit is nie.
“Die munisipaliteit kommunikeer gewoon op versoek van die SA Polisie die regulasies van die nasionale inperking. Die plasing is spesifiek om inwoners te vra om nie, wanneer 'n wegneemkoffie of wegneem verseëlde bakkie roomys aangekoop is, dit in die parkeerarea te sit en eet/drink nie. Die SA Polisie se versoek is billik gegewe die regulasies”
Die Mossel Bay Advertiser sal graag lesers se mening hieroor wil hoor.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'