MOSSELBAAI NUUS - 'n Vermetele inbreker het die afgelope naweek deur 'n piepklein ruimte gewriemel om toegang tot die munisipale kantore in Marshstraat te bekom.
Die voorval het tussen sluitingstyd op Vrydagmiddag en die begin van die werkweek op Maandagoggend plaasgevind, en is eers ontdek toe die eerste personeel vir werk aanmeld.
Volgens die Mosselbaai-polisie se woordvoerder, ao Pieter Koekemoer, is skootrekenaars en 'n tabletrekenaar met 'n geraamde waarde van sowat R54 000 gebuit.
Benewens die diefstal, het die inbreker geen ontsag getoon vir die netjiese kantore nie, en het papiere en lêers op die grond van die kantore waar toegang bekom is, rondgestrooi.
Enige persoon met inligting oor die voorval word versoek om die Mosselbaai-polisiestasie ( 044 606 2800) te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'