Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Na die onlangse bekendstelling van die Make A Difference-, oftewel MAD-veldtog op Mosselbaai het lede van die burgemeesterkomitee verlede naweek by Eden Mercy Care gaan besoek aflê.
Die organisasie is onder leiding van pastoor Neil Williams.
Williams en sy span het veral gedurende die grendeltydperk in 2020 moue opgerol om 'n groot verskil in behoeftiges se lewens te maak.
Burgemeester Dirk Kotzé het sy waardering uitgespreek vir die enorme werk wat die groep doen om in die behoefte van die begunstigdes te voorsien en werklik 'n verskil in die lewens van mense te maak. Dit sluit onder meer in die nagenoeg 70 000 maaltye wat voorsien is aan diegene wat weens die pandemie werklik swaargekry het.
Die organisasie is tans besig om gemeenskapstuine te vestig, onder meer op grond wat die munisipaliteit bewillig het.
Kotzé, wat MAD onlangs bekendgestel het, besoek tans organisasies wat die veldtog se beginsels vergestalt.
"Welwillendheid kan nie in isolasie plaasvind nie," sê Williams. Eden Mercy Care bestaan reeds sedert die vroeë jare 2000 en beskik oor 'n goedtoegeruste kombuis en kantoor by die herlewingsentrum in Sampsonstraat.
VIDEO: Eden Mercy Care gee om
Eden Mercy Care bied ook vaardigheidsontwikkeling, kinder- en jeugontwikkeling, traumaberading, asook ondersteuning aan diegene wat aan MIV/Vigs ly of alkohol en dwelmafhanklik is.
"Ons ontvang bydraes van borge en ook vanuit ons onmiddellike omgewing, maar verdere ondersteuning vanuit die gemeenskap sal baie help."
Raadsdame Rosina Ruiters werk ook gereeld saam met Eden Mercy Care.
Kotzé het Eden Mercy Care sterkte toegewens met die bereik van hulle met hul doelstellings, wat soortgelyk is aan die strategiese visie wat sy raad naastreef.
Hy het ook die hoop uitgespreek dat sakelui en besighede in Mosselbaai die organisasie sal bystaan.
Tot soveel as 350 gesinne ontvang per geleentheid 'n vullende maaltyd van die Eden Mercy Care, wat baie hard daaraan werk om nie 'n afhanklikheid by gemeenskappe te skep nie, maar eerder met ander instansies saamwerk sodat hul omgee werklik 'n verskil in die lewens van andere kan maak.
Lede van die burgemeesterskomitee, (van links) raadslede Mark Furness en Nickey le Roux, raadshere Cliffie Bayman en Dirk Kotzé saam met personeel van Eden Mercy Care. Tweede van regs, is die stigter van die organisasie, pastoor Neil Williams. Foto: Jannie du Plessis
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'