MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier waarsku inwoners en vakansiegangers dat huisbrake in die gebied vanaf Glentana tot by Klein-Brakrivier met die aanvang van die vakansieseisoen drasties toegeneem het.
Vyf huisbrake in slegs een week is vanaf 14 Desember by dié polisiestasie aangemeld.
Die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais, sê gebiede wat deurloop sluit Outeniquastrand, Pienaarstrand, Hersham, Tergniet en Rheebok in.
Boonop is dit nie slegs leë vakansiehuise wat geteiken word nie, maar ook bewoonde huise.
Marais sê nog geen in hegtenisnemings is gemaak nie en die inbrekers is nog op vrye voet.
"Selfone, skoot- en tabletrekenaars is die items wat gesteel word."
Volgens Marais is die verdagtes se algemene werkwyse om toegang tot die huise te verkry deur middel van vensters wat oopstaan.
"By sommige wonings is vensters uit die rame verwyder om so toegang te verkry."
Marais sê die inbrake vind plaas tussen 22:00 en 04:00 wanneer inwoners slaap.
Niemand is gedurende die huisbrake beseer nie.
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'