MOSSELBAAI NUUS - Volgens die Da Gamaskop-polisie se kommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie, is van die jongste misdaadtendense in die stasie se bedieningsarea huisbrake en diefstal uit motorvoertuie.
Gedurende die naweek het veral persele in Voorbaai deurgeloop, aldus kapt Fourie.
"Tydens die voorvalle is goedere ter waarde van meer as R500 000 gesteel. Dit sluit in heelwat elektroniese toerusting asook meublement." By al die persele was daar gekoppelde alarmstelsels.
"Diefstal uit motorvoertuie het voorgekom in Island View en Diasstrand," sê kapt Fourie. In meeste gevalle, sê hy, was voertuie nie veilig weggesluit nie, maar was dit op straat geparkeer.
"Oortreders maak gebruik van flitse om te kyk of daar enigiets in die voertuig rondlê, waarna hulle nie skroom om 'n ruit uit te slaan om dit te bekom nie.
"Ons maan die gemeenskap met groot erns om geen items binne sig in hulle voertuie agter te laat nie.
"'n Baadjie of 'n sak wat dalk vir jou na niks lyk nie, gee 'n oortreder die geleentheid om jou skade te berokken."
Tydens een van die voorvalle, berig kapt Fourie, is daar 'n beursie met R1 000 kontant wat in 'n voertuig gelaat is, gesteel.
"Wat die huisbrake betref, is mense steeds nalatig deur vensters oop te los wat nie diefwering aan het nie. Dit is baie maklik vir 'n oortreder om op hierdie manier toegang tot 'n perseel te verkry. Moenie met oop vensters slaap nie." In twee van die huisbraakvoorvalle aangemeld, was die huisinwoners aan die slaap toe hulle wonings betree is.
Kaptein Fourie verskaf die volgende wenke teen huisbraak:
- Ken jou noodnommers. Plak dit naby die telefoon of sit dit op jou yskas waar jy dit maklik kan bekom in nood.
- Bring ekstra sekuriteitshekke aan byvoorbeeld in die slaapkamer of gang wat na die slaapkamers lei.
- Gebruik beligting tot jou voordeel. Laat ligte weg van die huis skyn en trek gordyne saans toe sodat oortreders nie kan bepaal waar in die huis jy rondbeweeg nie. Maak gebruik van 'n flits om in die huis rond te beweeg indien nodig.
- Beveilig jou motorhuis met dieselfde sorg as jou woning.
- Tuingereedskap moet veilig weggebêre word en nie binne sig in die tuin rondlê nie.
- Handhaaf 'n goeie verhouding met jou werksmense. Maak seker dat hulle van goeie karakter is.
- Handhaaf goeie buurmanskap. Maak seker jy het jou bure se kontaknommers.
- Vervang die slotte van deure indien sleutels wegraak.
- Sluit aan by 'n buurtwag en maak gebruik van die buurtwag se WhatsApp-groep om op hoogte van sake te bly.
Kontaknommers
Die Da Gamaskop-polisie kan gekontak word by:
• Stasiedienssentrum: 044 606 2200
• Sektor 1: 082 778 7308
• Sektor 2: 079 894 1647
• Landelike sektor: 079 879 9093
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'