Aanvanklik het die jongspan maar versigtig nadergestaan, maar die viervoetiges was meer as gretig om maats te maak. Kort voor lank het Gigi, Mika, Jack en Boelie behoorlik stertgeswaai terwyl die kinders glad nie geskroom het om die diere met liefde te oorlaai nie.
Kaptein Retha Louw van die eenheid het vir ‘n besonderse verrassing gesorg toe sy ‘n wollerige Rottweiler-kleinhondjie te voorskyn gebring het, wat meer as net die kinders se harte gesteel het. Personeel van die sentrum het gou kom toustaan om die wollerige bondeltjie te vertroetel.
“Dit was ‘n besonderse oggend – ek is aangenaam verras oor die nuwe vriendskappe wat gevorm is tussen die kinders en al die lede van die honde-eenheid,” sê Yolandi Botha, eienaar van die sentrum.
Volgens Botha, is die sentrum druk besig om voorbereidings te tref vir April, wat wêreldwyd as Outisme-bewustheidsmaand bekend staan.
Vanjaar sal hulle blou knope en lintjies beskikbaar hê, sodat lede van die publiek hulle ondersteuning aan outisme-bewusmaking kan toesê.
“Ons beplan ook om elke Vrydag, soos verlede jaar, blou te dra. In April wil ons opnuut ‘n uitnodiging rig aan die gemeenskappe van Mosselbaai om by ons skool te kom kuier. Ons kinders is mal oor besoekers,” sê Botha.
Blou is die amptelike kleure van die Outisme-bewusmakingsveldtog.
FOTOGALERY

Die SAPD se Langeberg K9-eenheid het gister by die Leolan Akademie ingeloer.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'