Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Gesondheidspraktisyns het saamgespan om die inwoners van Hartenbos-versorgingsoord met 'n Kersfeespartyjie te bederf.
Die geleentheid, waartydens die seniors toiletware gekry, heerlike vingeretes geniet het en ook deur 'n sanger vermaak is, het op Vrydag 1 Desember plaasgevind.
Vroue met Kersfeeshoede het die geskenke oorgehandig. Die inwoners het ook 'n pakkie beskuitjies gekry om weg te neem en later te geniet.
Stukkies klatergoud wat die tafels versier het, het aan mense vasgeklou. "Ek kan nie hierdie afkry nie," het een vrou gesê.
"Los dit maar. Dis Kersfees," was die geestige antwoord aangesien 'n atmosfeer van vreugde en warmte aan die orde van die dag was.
Arbeidsterapeut Prissie Muller, fisioterapeute Celna Botes en Stephani du Toit; neuroloog dr André Leonard; en neurochirurg dr Herman van Heerden is die gawe praktisyns verantwoordelik vir hierdie genotvolle geleentheid.
Daar was ook skenkers wat anoniem wou bly. Sanger, Andy, het die vermaak verskaf.
Gesondheidspraktisyns het saamgespan om die inwoners van Hartenbos-versorgingsoord met 'n Kersfeespartyjie te bederf.
ARTIKEL & FOTO'S: LINDA SPARG, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'