MOSSELBAAI NUUS - Wolwedans se gemeenskap is die volgende groep begunstigdes wat sal baat by die oprigting van sogenaamde raised gardens. Dit is beddings wat so gebou word dat ouerwordende sowel as rolstoelgebonde persone met gemak daarin kan werk.
Verlede Saterdag, 2 April het die Mosselbaai-munisipaliteit in samewerking met die departement gemeenskapskorreksies by twee wonings met voorbereiding vir die bou van die groenteakkers begin.
As deel van hierdie projek, word persone onder korrektiewe toesig benut in die konstruksieproses sodat hulle basiese bouvaardighede kan leer ten einde hulle voor te berei om stukwerk te kan doen.
Terselfdertyd, word noodsaaklike voorbereiding gedoen vir 'n volwaardige kapasiteitsbousessie aangebied deur die departement van landbou, wat die gemeenskap sal leer van grond, die bemesting daarvan, asook die nut van 'n plantkalender.
Die groep beoog om weer op 16 April hulle werk in Wolwedans voort te sit.
Enige individu, besigheid of organisasie wat graag aan die program wil deelneem of 'n bydrae wil maak, word versoek om met Alma Kapp kontak te maak (044 606 5251 of te stuur 'n e-pos na akapp@mosselbay.gov.za).
"Ons het ‘n groot hupstoot ontvang danksy sakeman Albert Wiffen wat 10 sakke sement vir die program beskikbaar gestel het. Ons het egter nog sement nodig en wil vriendelik vra dat persone wat ons hand wil sterk, dit doen deur middel van skenkings."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'