Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Mosselbaai kan in geheel op hernubare energie funksioneer.
"Dit kan die groenste munisipaliteit wêreldwyd word, wat 'n goeie toeriste-aantreklikheid en lokaas vir industriële ontwikkeling vir die streek sal wees.
"Tegelyk kan PetroSA die eerste, groenste raffinadery ter wêreld word."
Dít is die mening van David Sonnenberg en Louis Serfontein, verteenwoordigers van 'n maatskapy genaamd Kura, wat in gesprek met die munisipaliteit en ander instansies oor herwinbare energie in die Suid-Kaap getree het.
Kura is die gevolg van 'n vennootskap tussen die instansies Uhuru Energy en Lifeco.
Sonnenberg het meer as 20-jaar ondervinding in die vestiging van hernubare energiebesighede in Europa, Afrika en Asië.
Kura sê omdat Suid-Afrika klein natuurlike gasbronne het, kan biometaan wat voortgebring word uit die omskakeling van biogas vanaf grondstowwe soos mis, riool en energiegewasse, op dieselfde wyse gebruik word as natuurlike gas vir die opwekking van elektrisiteit.
Kura meen die energie-industrie kan 'n volhoubare omwenteling ondergaan sou daar na groenenergieopwekking oorgeskakel en geïnvesteer word, veral indien die natuurlike gas wat PetroSA nou uit die see ontgin met 'n biogas vervang word.
Energie van vullis
Energie kan uit munisipale afval geskep word. Mosselbaai genereer buite seisoen gemiddeld 2 500 ton vullis per maand.
Die groter Eden-distrik lewer eweneens maandeliks duisende ton afval. Juis daarom, meen Kura, kan Mosselbaai-munisipaliteit, die groter Eden-distrik, selfs PetroSA, die groenste energie in Suid-Afrika produseer as dié afval gebruik kan word vir elektrisiteitsopwekking, en kan die krisis met die beskikbaarheid van spasie vir die stort van vullis oorkom word.
Boonop kan die projek tot werkskepping lei, die spoornetwerk in die area kan opgeknap word en hernude stukrag in die gebruik van Mosselbaai se hawe word verwag.
Tydens 'n opvolgvergadering met die uitvoerende bestuur van die munisipaliteit op Maandag, 5 Maart, het Sonnenberg beklemtoon dat die doeltreffende gebruik van beide droë en nat biomassa, asook munisipale afval, groen gasse kan lewer wat volhoubaar in elektrisiteit en brandstof omgeskakel kan word.
Kura meen die huidige PetroSA-aanleg kan bekostigbaar aangepas word om groengas soortgelyk aan aardgas te verwerk.
Die uitdaging is egter om die gasse teen mededingende pryse te voorsien - teen dieselfde prys of minder as fossielbrandstof.
Dit, meen Kura, is haalbaar deur oplossings op groot skaal te ontwikkel, onder meer deur die biomassa twee keer te gebruik - eerstens om biometaan te produseer; tweedens om bio-syngas te produseer - en deur plaaslike afval te gebruik om gasse te vervaardig.
Spekboom en kaktusse
Aangesien daar op die lange duur nie genoeg plaaslike munisipale afval mag wees om in die behoefte te voorsien nie, sal energiegewasse op marginale grond wat nie geskik vir voedselproduksie is nie, gekweek moet word," sê Sonnenberg.
Die munisipaliteit het tydens dié gesprek gewys op honderde hektaar grond, veral naby die landelike gemeenskappe, wat ideaal geskik is vir die massa-aanplanting van energiegewasse soos spekboom en 'n goedgekeurde variëteit van kaktusse.
Dit kan die ekonomie van landelike gemeenskappe stimuleer en werksgeleenthede skep.
Serfontein sê die onderliggende tegnologie is nie nuut nie, en word wêreldwyd ingespan vir volhoubare energieverskaffing.
Hy sê beleggins in kernkragaanlegte en die ontginning van aardgas deur fracking sal onnodig wees sou liefs energiegewasse en munisipale afval in groenenergie omskep word.
Kyk 'n video hieronder.
'n Maatskappy wil die berge vullis wat deur munisipaliteite op vullisterreine gestort word, gebruik om volhoubare, groenenergie op te wek. Massa-aanplantings van energiegewasse soos die gewilde spekboom op grond in die Suid-Kaap wat nie geskik is vir voedselproduksie nie, kan bydra tot die inisiatief om PetroSA te omskep as die groenste raffinadery in die wêreld.
Beskikbaarheid van fondse
Om dié tegnologie geïmplementeer te kry, is nou egter minstens R30 miljoen nodig. Verskeie instansies het belangstelling getoon, maar die uitdaging is om belangstelling in beleggings te omskep.
Ondanks moderne tegnologie wat munisipale afval in groenenergie kan omskakel teen 'n fraksie van die koste verbonde aan die berging daarvan, word die Mosselbaai-munisipaliteit egter deur 'n munisipale verordening van die Eden-distriksmunisipaliteit (EDM) tot die beplande streekstortingsterrein verbind.
Terwyl Mosselbaai tans sowat R4.9m aan PetroSA vir die gebruik van hul stortingsterrein betaal, beloop kosteberamings vir die gebruik van die nuwe EDM-streekstortingsterrein volgens inligting wat in 2017 aan die raad voorgehou is, minstens R19 533 294 per jaar.
Hierbenewens sal Mosselbaaiers volgens die EDM-woordvoerder, Herman Pieters, na 'n raadsbesluit van 5 Desember verlede jaar, 'n bykomende 'n 10% administrasiefooiheffing addisioneel tot die koste per ton vullis wat gestort word, moet opdok.
Vullisstorting gaan dus toenemend net nóg duurder word. Trouens, kenners meen dat, naas watervoorsiening, die hantering van munisipale vullis die grootste enkele uitdaging vir munisipaliteite is.
Rampspoedige dilemma
Minister Anton Bredell se woordvoerder, Rudolf van Jaarsveldt het in Augustus verlede jaar gesê die fiskale realiteit in Suid-Afrika is dat daar geen fondse van óf die provinsiale, óf die nasionale regering beskikbaar is om die beplande streekstortingsterrein te befonds nie.
Intussen blyk dit dat EDM wag op besluite deur Nasionale Tesourie en dat die tender vir die bou van die streekstortingsterrein daarom nog nie toegeken is nie.
Terwyl daar dus deur owerhede groot gewag gemaak word van die noodsaak vir herwinning en hergebruik van munisipale afval, blyk dit 'n volhoubare alternatief vir aardgasse met groenenergie beskikbaar is - mits die fondse daarvoor bekom kan word.
Lees meer oor die groenenergie-inisiatief hier: Spekboom, waste may save PETROSA
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'