MOSSELBAAI NUUS - Ouers in die Sonskynvallei-, Brandwag- en Ruiterbos-omgewing het al harde klippe gekou om hulle kinders by die skool te kry. Te midde uiterste uitdagings en heelwat rompslomp, blyk dit of hulle nog 'n jaar se grasie vir gesubsidieerde vervoer gekry het.
Soos voorheen berig deur die Mossel Bay Advertiser, het ouers in hierdie areas in veral 2021 gemobiliseer om seker te maak dat koshuisinwoning nie op hulle kinders afgedwing word nie.
Volgens die beleid van die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD), word koshuisinwoning vir leerders wat buite 'n 5km-radius van die skool af woon aangebied, sou dit beskikbaar wees.
Alternatiewelik, kan gesubsidieerde vervoer aangebied word, hoewel die skool hiervoor aansoek moet doen.
Duur vervoer
Ouers in die genoemde gebiede, waar finansiële tekort 'n wesenlike uitdaging is, het in talle gevalle behoorlik opgedok vir privaatvervoer totdat, na etlike pleidooie, die tersaaklike skole, Sao Bras en Hillcrest se aansoeke einde verlede jaar goedgekeur is.
Hoërskool Punt het egter nie om leerdervervoer aansoek gedoen nie, het die WKOD by 'n vorige navraag bevestig.
Met ingang van die nuwe skooljaar in 2022, was daar opnuut sprake dat die leerdervervoer teen die einde van Januarie opgeskort sou word. Leerders van Punt, meer as 20, het boonop steeds nie goegekeurde vervoer gehad nie.
By navraag het die WKOD egter bevestig dat die leerdervervoerroete tussen Ruiterbos, Brandwag en Sonskynvallei na Sao Bras en Hillcrest tot Desember 2022 goedgekeur is.
Dit het egter nie Punt ingesluit nie, want volgens die departement se vervoerbeleid "kwalifiseer leerders 5km en verder vanaf die naaste skool vir leerdervervoer".
"Die aansoek om die roete na Punt uit te brei is nie goedgekeur nie, omdat Punt nie die naaste skool is nie," het Millicent Merton, 'n woordvoerder van die WKOD by navraag gesê. Ouers het opnuut 'n proses van onderhandeling met die skool asook die WKOD-kringbestuur aan die gang gesit waarna ook Punt se leerders tot tyd en wyl sonder sukkel by die skool kan kom.
Weldoener
Sedert Augustus 2021, kan Jerome Sass leerders wat by die skool moet uitkom en geen heenkome het nie, se nood nie miskyk nie.
Sass het 'n kontrak met die WKOD en bied leerdervervoer aan gemeenskappe in Groot-Brakrivier, Ruiterbos, Brandwag en Sonskynvallei.
Hy vervoer tans ongeveer 670 leerders.
"Ek het self die besluit geneem om kinders wat nie op die boeke is nie op te laai, want hulle het 'n reg tot opvoeding. Ek wil net elkeen die geleentheid gee wat hom of haar toekom."
Sass het aan die Advertiser gesê dat hy altyd geweet het daar sal wel 'n oplossing kom. Hy het groot bewondering vir die deursettingsvermoë van die ouers in Ruiterbos, Brandwag en Sonskynvallei.
Tans, is daar groot kommer oor laerskoolleerders wat vanaf Sonskynvallei na Brandwag stap om skool by te woon. Dit blyk asof die rede hiervoor is dat leerders vanweë onbetaalde skoolgeld geskors is. Sass verskaf ook vervoer vanaf Sonskynvallei na Laerskool Hartenbos.
"Dit breek my om kinders langs die pad te sien stap vir 9 tot 10km, dan is dit laerskoolkinders. Sommige kaalvoet. Hulle reën nat in die winter. Die kinders kom uit moeilike omstandighede."
Sass sê dat hy hierdie kinders ook gratis vervoer. "Ek moet in elk geval daar verby. Ek het nou maar 'n oplaaiplek met hulle gereël."
Skoolgeld
Die Advertiser het verneem van leerders wat uit Laerskool Hartenbos geskors is vanweë die nie-betaling van skoolgeld. Hierdie leerders, sover bekend, word in St Luke's Primêre Skool in Brandwag geakkommodeer.
By navraag aan die WKOD het Millicent Merton gesê dat die departement nie van onregverdige diskriminasie by die genoemde skool bewus is nie.
"Ouers moet jaarliks aansoek doen om vrystelling van skoolfonds deur die korrekte dokumentasie voor te lê, binne 'n voorgeskrewe tydperk deur die skool bepaal. Die skoolhoof is daarvoor verantwoordelik dat ouers weet watter vorms voltooi en ingehandig moet word.
Merton het die volgende kriteria gegee vir vrysteling van skoolfonds: indien 'n leerder wees of deur sy of haar ouers agtergelaat is; leerders aan wie 'n armoedeverwante toelaag betaal word; 'n leerder wie se ouers aansoek om vrystelling van skoolfonds gedoen het en wat deur die skoolbeheerliggaam goedgekeur is.
"'n Ouer kwalifiseer outomaties vir vrystelling indien genoegsame bewys aan die beheerliggaam gelewer is. Dit sluit in 'n beëdigde verklaring deur die ouer self, 'n maatskaplike werker of enige ander tersaaklike owerheid of 'n hofbevel. Indien vrystelling afgekeur word, mag ouers appèlleer. Ouers word aangemoedig om enige onregverdige diskriminasie by die kringbestuurder aan te meld."
Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'