Die twee buitegeboue, 'n Wendy-huis en ook 'n betonkonstruksie is Vrydagoggend in die bloedige hitte platgestoot onder toesig van 'n verteenwoordiger van die Mosselbaai se Balju. Alle bourommel is weggery na die munisipale stortingsperseel agter die Mosselbaai Brandweer.
Klagtes oor die geboue op die perseel, wat tans in 'n trust is, is op 'n spits gedryf nadat onwettige plakkers die inwoners van Innikol-woonstelle en ook verbygaande motoriste op Louis Fourieweg verpes het.
Na 'n skynbaar voortslepende geding, is 'n hofbevel toegestaan ten gunste van die Mosselbaai Munisipaliteit, waarvolgens die eienaar van die perseel tot bevrediging van die munisipaliteit, die geboue moes sloop en alle bourommel moes verwyder.
Inwoners van die omliggende omgewing het die sloping verwelkom.
"Dit is met blydskap dat ek dat ek kan rapporteer dat hulle op die oomblik besig om die bouvalle langs Innikol af te breek. Ek hoop alles sneuwel voor die naweek," was die kommentaar van 'n anonieme bron tydens die sloping verlede Vrydag.
Innikol-woonstelle se inwoners het egter kommer uitgespreek oor die verwaarloosde woonhuis wat steeds op die perseel staan, aangesien dit die gebou is waarin plakkers hulle voorheen en dalk weer sal kan tuismaak.
By navraag aan die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hill, is bevestig dat die hofbevel slegs ten opsigte van die sloping van die bouvallige strukture was en nie ten opsigte van die oorblywende gebou nie, aangesien dit steeds bruikbaar is en maklik herstel kan word.
Volgens mnr Hill kyk bou-inspekteurs tans daarna. Hy het ook gesê dat alle materiaal wat na die Brandweer se mening 'n brandgevaar skep, soos basies droë plantmateriaal sal, of reeds verwyder is.
'n Kontrakteur sloop een van die bouvallige geboue op die perseel langs Innikol-woonstelle. In die agtergrond is die woonstelgebou sigbaar.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'