MOSSELBAAI NUUS - Die Groot-Brakrivier-polisiestasie het bevestig dat 'n gewapende huisroof by Pienaarstrand ondersoek word.
Volgens die voorsitter van die Glentana buurtwag, Hendrik Visser, het vier mans om en by 02:00 Woensdag, 2 November toegang tot die huis deur 'n skuifdeur gekry.
Die huiseienaar het wakker geword en ondersoek ingestel toe hy in die gewapende rowers vasgeloop het.
Die man en sy vrou is vasgebind terwyl die rowers, drie met handwapens geld geëis het. Die drie mans met die handwapens het in Frans met mekaar gekommunikeer.
Die huiseienaars het nie geld gehad nie waarna 'n TV-stel, juweliersware en ander waardevolle items gesteel is voor die verdagtes op die vlug geslaan het.
Die huiseienaar het alarm gemaak, waarop die polisie en buurtwag vinnig op die toneel was.
'n Hommeltuig is ook in die soektog gebruik.
Die middeljarige egpaar het geen beserings opgedoen nie, maar is erg getraumatiseer deur die roof.
Visser sê dit is vreemd dat die buurtwag se kameras nie voertuie in en uit die gebied sien beweeg het nie. Hy het 'n beroep op mense gedoen om hul deure en vensters toe en gesluit te hou en hul oë oop.
"Huisbrake wat die laaste paar maande aangemeld is, was by huise waar daar mense bly, nie leë vakansiehuise nie. Dit dui daarop dat die rowers op soek is na selfone, rekenaars en televisiestelle." Die ondersoek duur voort.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'