Gallery Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Nooddienste, insluitend die Mosselbaai se brand-, redding- en rampbestuursdiens is inderhaas op Valentynsdag, Maandag 14 Februarie na die Langeberg-inkopiesentrum na berigte van 'n brand ontvang is.
'n Dik, swart rookwolk het oor die gebied gehang. Hoewel die brand aan die agterkant wat die gebou was, is die sentrum om veiligheidsredes ontruim.
Volgens inligting het winkeleienaars, personeel en die publiek die sentrum ordelik ontruim nadat die brandalarm geaktiveer is en 'n ontruimingsbevel oor die interkomstelsel afgekondig is.
Almal het in die parkeerterrein vergader.
Verwoesting
Drie busse van die Langeberg-busdiens wat in Depotlaan, op die agterste hoek van die sentrum geparkeer was, is tydens die brand verwoes. 'n Vierde bus is beskadig nadat een van die voertuie se brandstoftenk ontplof het. 'n Klein sleepwa het ook skade opgedoen.
Foto's en video's het binne enkele minute na die brand ontstaan het, soos 'n veldbrand op sosiale media versprei. Personeel van die sentrum, veligheidspersoneel en lede van die publiek het die brand met brandslange en -blussers probeer blus.
LEES MEER: Kringtelevisiekameras nagegaan
Hannes Visser, mede-eienaar van die busdiens was uitstedig ten tye van die voorval. Hannatjie Lordan-Visser, ook mede-eienaar was tydens die voorval op die toneel en baie geskok.
"Ons is platgeslaan, maar nie uitgeslaan nie. Ons gaan steeds voort en sal steeds die hoë pyl van diens handhaaf met die voertuie wat ons nog tot ons beskikking het," het Hannes aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Vinnig versprei
Die brand het volgens inligting ongeveer 13:00 ontstaan en toe vinnig na die ander voertuie versprei. Die voertuie was langs mekaar geparkeer.
FOTOGALERY: Brand buite Langeberg-inkopiesentrum
Brandweermanne het die brand teen 13:45 geblus. Geen beserings is aangemeld nie en die sentrum is weer heropen nadat die brand onder beheer gebring is. Incident Working Group Africa is na die toneel ontbied om op te ruim, aangesien daar heelwat brandstof op die teeroppervlakte uitgeloop het.
Volgens ao Kappie Kapp, Da Gamaskop-polisie se kommunikasiebeampte word die oorsaak van die brand ondersoek. Visser het reeds 'n saak by die polisie geopen aangesien die vermoede bestaan dat gemene spel betrokke is.
VIDEO: Vier busse in brand verwoes
Hy het aan die Advertiser gesê dat CCTV-materiaal bestudeer word.
"Ek en Hannatjie wil ons innige dank betuig aan Kobus Bernardo, sentrumbestuurder en Tyron Stoffels, hoof van sekuriteit wat reg van die begin af ingespring het om te probeer red wat te redde is, asof dit hulle eiendom was. Die ondersteuning wat ons ontvang is ongelooflik en is voorwaar 'n riem onder die hart. Ook kan ons nie nalaat om die betrokke polisiebeamptes en die brandweer te bedank vir hulle ondersteuning nie," sê Hannes.
'n Beloning van R5 000 is deur die bestuur van die busdiens uitgeloof vir die persoon wat met inligting vorendag sal kom wat in die ondersoek van die saak gebruik kan word.
Enige persoon met inligting kan sers Sonia du Plessis van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling kontak (044 606-2221).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'