Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Tiffany Campbell van Mosselbaai se dogter, Cassie (8), is doof. Cassie is tans 'n leerder by die Carpe Diem skool in George, maar moet oor twee jaar na 'n skool gaan waar sy gespesialiseerde onderrig vir dowe mense sal ontvang.
Die enigste skool wat sulke onderrig aanbied, is die De La Bat skool in Worcester.
FOTOGALERY: Ma vertel van dogter se uitdagings
Tiffany, wat by die Seegrenseenheid in Mosselbaai werk, is 'n enkelma van Cassie en Zac (12).
Sy bly saam met haar ouers vir wie sy sorg en wat haar baie ondersteuning bied en help met die kinders. "Ek kan nie my kind alleen na Worcester toe stuur nie. Ek sal 'n oorplasing moet kry en my hele familie saam met my neem en dit is eenvoudig net te duur.
"Ons sal ook uit ons gemeenskap waar ons nou al vir dekades bly, moet trek. Wat ek wil weet, is of daar nie 'n manier is vir die verskillende fasiliteite om hande te vat en 'n opleidingsentrum hier in Mosselbaai te begin vir mense met verskillende gestremdhede nie?"
Tiffany voel dat mense nie regtig begrip of empatie het met mense wat gestremd is nie. Cassie se ouma, Sally Simmers, bly saam met die gesin en sê sy het baie seer oor die manier hoe mense reageer op Cassie as sy harde geluide maak. "Die mense in die winkels en kinders op straat staar haar aan en dit maak my binneste so seer, maar ek bid maar net die Here se kalmte oor haar."
Tiffany vertel dat Cassie 'n baie soet baba was, maar op ses maande nog nie regop kon sit nie.
Sy het op sewe maande asmatiese bronchitus gekry het en is vir 10 dae in die Panorama Hospitaal in Kaapstad behandel waar verskeie toetse en skanderings gedoen is.
Daar is ook op nege maande gehoortoetse op Cassie gedoen wat nie gewys het dat daar iets fout is nie. Sy het weer ernstig siek geraak op drie jaar, maar daar is eers op die ouderdom van vyf jaar bevind dat sy baie min kan hoor.
Volgens die dokters was sy toe reeds te oud om 'n koglia inplanting te kry.
Cassie is saam met drie seuntjies in die klas by Carpe Diem.
Dit gaan baie goed met haar in die skool en sy is die beste in haar klas. "Ek kan nie my kind alleen wegstuur nie. Hoe gaan ek met haar kommunikeer en weet of sy aanpas in die koshuis en hoe sy voel as sy weg is?"
Tiffany het ook op Maandag, 17 April, deelgeneem aan die bespreking oor die behoeftes en uitdagings van gestremde mense in die Mosselbaai-omgewing.
Sy is positief dat daar binne die volgende paar maande 'n werkbare oplossing sal kom, sodat Cassie by hulle aan huis kan bly en hier skoolgaan.
VIDEO - Sally Simmers, ouma van Cassie Campbell, vertel van die uitdagings vir die familie van 'n dowe.
VIDEO - Tiffany Campbell van Mosselbaai oor die gebrek aan 'n skool vir gehoor-gestremdes in Mosselbaai.
VIDEO - Tiffany Campbell vra vir groter begrip en bewusmaking van mense met gestremdhede.
VIDEO - Tiffany Campbell van Mosselbaai oor die gebrek aan 'n skool vir gehoor-gestremdes in Mosselbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’