MOSSELBAAI NUUS - Lizle Frans vee maklik trane af as sy begin praat oor haar boek, Ontbloot. Dis nie noodwendig net trane van herinnering wanneer sy seer uit die verlede onthou nie, maar juis ook trane van verligting.
Lizle het die boek geskryf sodat ander, wat dalk soortgelyke ervarings met haar deel, kan besef dat daar wel 'n herstelpad vir mense met emosionele trauma is.
"Ek woon in Asla Park en elke dag sien ek hoe mense se omstandighede hulle verhoed om hulle potensiaal te bereik en êrens te kom. Die omstandighede is net te neerdrukkend."
Lizle wéét waarvan sy praat. Sy kén swaarkry as kind in 'n enkelouerhuis. In Ridgeview Primêre Skool, het 'n onderwyser in graad 5 haar selfbeeld so te sê vernietig deur gereelde verwysings na hul armoede.
"Hy het my geboelie. Eintlik al ons kinders wat arm was en ons gereeld laat verstaan hoe nikswerd ons is." In die klas, is hulle in rye gerangskik. "Ons, die kinders wat nie kon betaal vir skoolfunksies en so aan nie, is verwys na as 'die vallei van droë beendere'. Ek was maar net 'n kind. Ek het later geglo, dat as my meneer sê ek kan niks doen nie, dan is dit mos seker so." Sy het nie hoërskool voltooi nie.
Lizle vertel ook 'n verhaal van molestering. "Ons het hom ds Lekkers genoem. Hy het vir ons Sondagskool in die week gegee en dis die enigste lekkers wat ons daardie tyd geken het."
Maar die lekkers, het teen 'n duur prys gekom. Later in haar lewe, was sy ook 'n slagoffer van verkragting.
Toe sy in Heiderand vir 'n gesin in die huis gewerk het, het sy begin om dinge in 'n dagboek neer te skryf.
Die boek was altyd by haar. "Ek het sommer enige ding daarin neergeskryf en dit het my beter laat voel."
Eendag, toe sy met verlof gaan, vergeet sy die boek by die werk. "Omdat hulle nou moes sien wie se boek dit is, moes hulle daarin lees."
En dis tóé dat geluk by die ongeluk haar tref. Haar werkgewer het van 'n paar kontakte gebruik gemaak en toe Lizle haar oë uitvee, woon sy 'n skryfkursus onder leiding van bekroonde digter en skrywer, dr Riana Scheepers by.
Sy het bemagtig gevoel om haar storie te skryf. Die proses was egter ook nie sommer oornag voltooi nie. Intussen, het borskanker ook oor haar pad gekom. "Kanker het my so baie geleer, onder andere, dat die lewe jou niks skuld nie."
Danksy haar man, wat haar lewe so ten goede beïnvloed het, se volgehoue ondersteuning, het sy die boek uiteindelik voltooi en self plaaslik laat druk.
"Ek het die boek geskryf om vir mense te wys dat 'n mens deur dinge kan kom en dat jy jou storie mág of liewer, móét vertel. As my storie verligting en hoop vir iemand bring, dan het ek geslaag."
Lizle stel haar boek op 1 November om 15:00 by Garden Route Primary, Asla Park bekend. Slegs 'n beperkte oplaag van Ontbloot is beskikbaar.
Een van die vroeër weergawes van Lizle Frans se boek, Ontbloot.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'