MOSSELBAAI NUUS - Wat ‘n spesiale geleentheid was Donderdag, 5 Maart vir die Suid-Kaap Fynproewersgilde.
Nadat Elaine Louw (sekretaresse) almal teenwoordig met haar aangrypende boodskap in die gees van Paasfees gebring het, het sjef Noddy Kubani op haar rustige, tog uiters professionele, manier verder bygedra tot hierdie onvergeetlike ervaring.
KD Fourie en sy span van Herold's Bay Resort was die gasheer by hierdie demonstrasie en Susan Gonin en haar groep het gesorg vir die pragtig versierde tafels.
Sjef Noddy, alreeds 30 jaar professioneel in die bedryf, is ‘n deurwinterde sjef wat ‘n ongelooflike passie het vir dit wat sy doen. Sy het alreeds op die ouderdom van 11 vrywillig ingespring om haar ma by te staan in die voorbereiding van die maaltye vir haar uitgebreide gesin in die Graaff-Reinet-distrik.
Met die intrapslag kon die fynproewers smul aan die heerlikste Chelsea buns met ‘n hot cross twist en ‘n koppie boeretroos. Hierdie gereg is ook later gedemonstreer. Dit is opgevolg deur die demonstrasie van die eiervrug-en-murgpampoentjierolletjies, gevul met spinasie en feta en ‘n pikante tamatie-rissiesousie bo-oor, ‘n groot gunsteling onder die fynproewers. Die geroosterde Marokkaansehoender met die mango-en-peppadew-salsa het ook groot byval gevind, maar dit was veral Camembert-en-spekpakkies met die lemoensous wat sekerlik almal in vervoering gehad het. Die demonstrasie is afgesluit met churros, gemaak van choux-deeg, met ‘n sjokolade-koffie-doopsous. Dit het kompleet gevoel asof jy in Ouma se kombuis sit en jou verlustig aan al die geure en smake daar, maar hierdie “Ouma” het dit net op ‘n baie vars, byderwetse manier gedoen.
Susann Ambrose het die wynpasproe aangebied. Die hoendergereg is gekomplementeer met Dusk, ‘n soet rosé perlé van Bonnievale Wines en Boplaas se beroemde port het die churros perfek afgerond.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'