Nie net is dit die eerste keer in die land se geskiedenis dat beide huise en akte tegelyk oorhandig word nie, maar dit is ook die eerste keer dat 'n huis en titel akte tegelyk in een van die ou Wet 9 areas oorhandig is.
Die eerste inwoner van Friemersheim wat sy titelakte by die minster ontvang het, was die 84-jarige mnr Kiewiet Gertze, wat terstond die minister vir tee en koekies ingenooi het.
'n Totaal van 230 titelaktes is aan inwoners van so oud as 90 jaar oorhandig, en die minister het gesê dit mag nooit weer gebeur dat mense tot so 'n besondere ouderdom moet wag vir die gemoedsrus van 'n eie tuiste nie.
"Pas hierdie titelakte op soos 'n stukkie goud," het mev Marie Ferreira, Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester die vermaning van minister Madikizela beaam, en daarop gewys dat die titelakte onomwonde eienaarskap bewys.
Minister Madikizela het aan 'n paar mense beide hul huise en aktes oorhandig voordat die grootskaalse amptelike oorhandigings in die gemeenskapsaal gevolg het.
Minister Madikizela het striemend daarop gewys dat die voorsiening van behuising die werk van sy departement is, en dat geen lofredes hulle toekom as sy beamptes gewoon hul werk doen nie.
"Julle geld het vir die huise betaal, dit is ons plig om te verseker dat die gemeenskap se geld wys en na behore aangewend word," het die minister bygevoeg. Die departement het die titelaktes gratis beskikbaar gemaak.
"Hierdie titelakte kan as sekuriteit by 'n bank gebruik word, en kan help om 'n lening te verseker wat straks vir 'n langverwagte droom soos 'n eie klein besigheid aangewend kan word.
Die minister het daarop gewys dat die Wes-Kaap 'n fenominale bevolkingsgroei van 1.3-miljoen mense tussen 2001 en 2011 beleef het. Hy het dit beklemtoon dat die behoefte wat hierdie bevolkingsaanwas vir die provinsie meebring, nie beteken dat mense wat al talle jare op behuisingswaglyste is, se behoeftes ter wille van die nuwe intrekkers agterweë gelaat moet word nie.
"Dit is noodsaaklik dat die mees verdienstelike gevalle prioriteit moet geniet," het hy bygevoeg.
'n Persentasie van die huise is ook aan plaaswerkers van die onmiddellike omgewing gegee om juis ook die probleem van plaasarwerkerbehuising aan te spreek.
Die minister het ook erkenning gegee aan 'n skrywe van mnr Jeremy van Wyk van die plaaslike erfeniskomitee, en die onderneming gegee dat hy afsonderlik met hom sal vergader om die komitee se besorgdhede aan te spreek.
"Ek kry eintlik hoendervleis as ek besef wat die waarde van die titelakte vir 'n inwoner meebring; dit is onomwonde bewys van eienaarskap. Mag die Hemelse Vader se hand op elke huis rus, en op wat julle in hierdie huise vermag, en op julle lewenspad vorentoe," het Raadsdame Ferreira afgesluit.
Die huise, in die woonbuurt wat die inwoners spontaan Mountain View gedoop het, is deur die Mosselbaai Munisipaliteit, agent vir die provinsiale regering, in samewerking met CSM Consulting Engineers en Mellon Construction opgerig.

Raadslid Cliffie Bayman, belas met behuising, en die Uitvoerende Onderburgemeester van Mosselbaai, mnr Harry Levendal, het die Wes-Kaapse Minister van Behuising, mnr Bonginkosi Madikizela, op Friemersheim verwelkom.

Drie van Friemersheim se oudste inwoners, mnr Hans 'Fellow' Speelman (84), mev Soraya Speelman (90) en mev Hester Bruitjies (85), was van die eerste ontvangers van hul titelaktes, toe ongeveer 230 gelukkige huiseienaars hul aktes op Donderdag, 30 Januarie, ontvang het. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'