MOSSELBAAI NUUS - Kollegas van kaptein Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie, is dit eens dat dinge maar net nie weer dieselfde sonder hom sal wees nie.
Kommunikasiebeamptes van stasies binne die Da Gamaskop-polisiesone het verlede week op Woensdag, 15 Desember van Fourie afskeid geneem.
Hy tree uit die polisiediens na 37 jaar.
Adjudant-offisier Kappie Kapp, kommunikasiebeampte van KwaNonqaba-polisie wat onlangs bevordering ontvang het, was die programleier.
Eerste aan die woord tydens die afskeidsfunksie, was kapt Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder vir die Suid-Kaap. Hy het Fourie geloof vir sy bydrae tot die kommunikasieportefeulje.
"Kaptein Wollie, jy het kommunikasie binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Suid-Kaap op die map gesit," het Pojie gesê. Hy het uitgebrei oor Fourie se professionaliteit en hoe goeie kommunikasie bydra tot die positiewe beeld van die polisie, ook hoe dit die verhouding en vertroue tussen die SAPD en die gemeenskap kan herstel. Pojie het Fourie ook geloof vir die uitstekende verhouding wat die polisie in die Suid-Kaap met die plaaslike en streeksmedia handhaaf. Kaptein Louis Visser, wat ook jarelank saam met Fourie werk, het op sy beurt verwys na die baanbrekerswerk wat hulle saam in die kommunikasieveld verrig het, danksy Fourie se leidende rol.
Jarelange vriend en kollega, ao Pieter Koekemoer, kommunikasiebeampte van die Mosselbaai-polisiestasie, het 'n paar tong in die kies staaltjies gedeel, waaroor daar lekker gelag is. Hy het Fourie bedank vir sy mentorskap en voorbeeld. Die twee was ook 'n gedugte span op die rolbalbaan, waar hulle, aldus Koekemoer soms kon hare kloof, maar steeds die beste van vriende gebly het.
Fourie, 'n boorling van Mosselbaai, gaan sy aftrede op sy plaas in die Gouritsmond-omgewing geniet.
Tydens sy afskeidswoorde, het hy sy kollegas aangemoedig om hulle toe te wy aan hulle werk en hulle diensjare ten spyte van uitdagings in die werkplek, deur te sien. Fourie, wat 'n diep gelowige Christen is, het sy dank aan sy Skepper betuig wat hy meen, uiteindelik sy pad bepaal het.
"Voor 'n mens jou kan kry, dan staan jy hier en jy moet afskeid neem. Berei jou voor vir jou aftrede en maak ook die regte besluite met die oog daarop," het Fourie sy kollegas gemaan.
Fourie het 'n paar besonderse geskenke van sy kollegas ontvang. Hieronder is 'n trofee vir sy lewenslange bydrae gelewer tot die SAPD in sy veld van kundigheid. Hy is die eerste ontvanger van hierdie spesifieke trofee. 'n Armhorlosie waarop hierdie besonderse prestasie gegrafeer is, het Fourie met trots en 'n groot glimlag aan sy pols gesit.
Die sogenaamde 'drie musketiers', die kommunikasiebeamptes in Mosselbaai, (van links) ao Pieter Koekemoer (Mosselbaai-polisiestasie), kapt Wollie Fourie (Da Gamaskop-polisiestasie) en ao Kappie Kapp (KwaNonqaba-polisiestasie). Foto's: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'