MOSSELBAAI NUUS - Militere veterane, hul geliefdes en ander geskiedenisliefhebbers sou kwalik kon dink dat die senotaaf by die Punt van alle plekke, gedurende die Erfenisdag-langnaweek vir hulle 'n bron van ontsteltenis sou wees.
Plaaslike militere veteraan en lid van die Blaize Away MOTH-bomgat, Anthony Janse van Rensburg het Sondag, 26 September die Punt besoek en oudergewoonte by die senotaaf aangedoen.
"Dit wat ek en my vrou daar aangetref het, was verskriklik. Dit was 'n toneel van absolute disrespek gelykstaande aan grafskending."
Foto's wat Janse van Rensburg op die toneel geneem het, toon grafitti op die gedenkplate waar gevalle soldate uit die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, die Koreaanse, asook die Bosoorloog en konflik in Irak se name verskyn.
"Dit lyk of iemand daar kamp opgeslaan het of een of ander ritueel uitgevoer het. Vuil onderklere, vullis en menslike ontslasting het ook rondgelê."
Janse van Rensburg het intussen 'n klag by die polisie aanhangig gemaak. Vroeër vandeesmaand, het die geskiedkundige geboutjie in Montagustraat waar die Blaize Away-bomgat gehuisves word, ook onder vandale deurgeloop toe verskeie ruite stukkend gegooi is. Die herstelwerk is feitlik onmiddellik deur die Mosselbaai-munisipaliteit gedoen.
Op Saterdag, 25 September is nog ruite van dié geboutjie stukkend gegooi. Ook hierdie skade is by die polisiesaak ingesluit.
"Ons skakel tans met die munisipaliteit. Hulle is bewus van die skade en werk tans aan 'n oplossing. Die MOTHS is almal bereid om by die senotaaf te gaan skoonmaak, maar aan die gedenkplate kan ons nie werk nie."
Janse van Rensburg het ook gesê dat hy in kontak met Erfenis Mosselbaai is aangaande die insident by die senotaaf.
'n Kopkussing dui aan dat iemand moontlik daar oornag het.
Haweloses
Volgens Werner Schwella, bestuurder van die Mosselbaai Sentraleverbeteringsdistrik (CID), is die voorkoms van rommelstrooiery en ontlasting wat meestal deur haweloses agtergelaat word, nie buitengewoon in die Punt-area nie. Schwella berig dat die operasionele personeel, wat voetpatrollies in die sentrale sakekern en ook die Punt doen, dikwels hulle hande vol het met haweloses.
"Die Punt het ikoniese status in Mosselbaai. Soveel mense koester besonderse herinneringe aan die gebied."
Volgens Schwella het die CID tans ongelukkig nie genoeg personeel om die hele area deur voetpatrollies te dek nie. Die CID probeer reeds sedert Januarie om hule voetspoor te vergroot ten einde 'n selfs beter diens te lewer wat uiteindelik sal bydra tot ekonomiese ontwikkeling in Mosselbaai.
"Ons benodig die eienaars van eiendomme in die Punt-area om na vore te kom en aan te sluit dat daar meer operasionele personeel aangestel kan word om publieke veiligheid te bevorder en misdaad te voorkom. Ons voetpatrollies maak werklik 'n verskil. Dink jou net vir 'n oomblik in as daar glad nie CID-personeel teenwoordige was in die sakekern nie?"
Onderklere en ontslasting is ook gevind.
Grafitti ontsier die gedenkplate.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'