MOSSELBAAI NUUS - Inwoners van Mosselbaai moet sorg dat hulle troeteldiere se inentings op datum is. So sê 'n plaaslike veearts, dr Stelouise Lourens na aanleiding van 'n brief wat die huiseienaarsvereniging van die Mosselbaai Gholflandgoed die afgelope week aan inwoners versprei het en waarin hulle inwoners versoek om "gesinne, werkers en lede" te waarsku en "toe te sien dat kinders nie alleen is nie" nadat 'n dassie glo 'n hond in 'n omheinde tuin op die gholflandgoed "aangeval" het.
Die huiseienaarsvereniging skryf in die brief: "Volgens 'n veearts is hondsdolheid 'n probleem te Mosselbaai."
Volgens die huiseienaarsvereniging het hulle slegs gereageer op terugvoering van die hond se eienaar.
Die Mossel Bay Advertiser het egter met verskeie veeartse op Mosselbaai gesels en almal was dit eens dat daar nog geen positiewe gevalle van hondsdolheid op Mosselbaai aangemeld is nie en dat dit nog nooit voorheen 'n probleem was nie. Hoewel daar onlangs hondsdolheid in die Kaapstad-omgewing uitgebreek het, was daar nog volgens die veeartse nie positiewe gevalle op Mosselbaai nie.
Volgens die veeartse is dit iets wat wel kan gebeur omdat troeteldiere verhuis.
Lourens sê indien troeteldiere se inentings egter op datum is, en 'n dassie wel byvoorbeeld 'n hond byt, 'n hond wat ingeënt is nie hondsdolheid sal kry nie. "Die hondsdolheid-inenting is baie effektief. As dit op datum is, is daar niks om oor te bekommer nie."
Nog 'n veearts het aan die Advertiser gesê dat 'n voorval soos wat in die huiseienaarsvereniging se brief aangemeld word deeglik ondersoek moet word. "Dit kan byvoorbeeld wees dat die dassie vasgekeer was en homself bloot net verdedig het."
Die staatsveearts het aan die Advertiser bevestig dat daar teen die ter perse gaan, geen positiewe gevalle van hondsdolheid op Mosselbaai aangemeld is nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'