MOSSELBAAI NUUS - In die landelike gemeenskap digby Vleesbaai sal drie bejaarde kiesers hierdie jaar vir die eerste keer aan 'n verkiesing deelneem danksy die onblusbare toewyding van Arthur Cloete, 'n DA-aktivis en gemeenskapsleier in Wyk 11.
Hy het onverpoosd gewerk om Hester Arendse (85) as kieser geregistreer te kry, haar met die prosesse gehelp en selfs uit eie sak bygedra om haar te ondersteun.
In die geval van Abraham Kannemeyer (63) het Cloete egter werklik die ekstra myl, maar met 'n draai geloop.
Eers het hy oor verskeie maande heen gehelp dat Kannemeyer 'n identiteitsdokument kon bekom alvorens hy hom as kieser kon registreer. Dit het verskeie ritte op Cloete se koste vanaf Vleesbaai tot by die kantore van Binnelandse Sake in Mosselbaai en selfs George geverg om die ID-aansoekproses af te handel en uiteindelik die dokument af te haal. Daarna het Cloete boonop vir Kannemeyer gehelp om suksesvol vir ‘n SASSA-staatstoelae aansoek te doen. Op Sondag, 4 Februarie kon hy hom uiteindelik as 'n kieser registreer.
"Ek is dankbaar. Ek sien uit om te kan stem," het Kannemeyer gesê.
Nóg 'n Kannemeyer, Gert (57) gaan ook vanjaar die kans aangryp om sy sê oor die land se toekoms by die stembus te kan sê.
Wyksraadslid vir wyk 11, Nickey le Roux het Cloete van harte bedank vir sy toegewyde gemeenskapsingesteldheid en veral sy volharding met die ID-aansoekproses, wat 'n opdraende stryd was. "Arthur Cloete is die vergestalting van 'n omgee-mens, 'n man wat sy medemens se welstand werklik op die hart dra. Dankie, Arthur."
Le Roux het ook die eerstekeer kiesers, veral die jongklomp bedank, wat in groot getalle in onder meer Danabaai as kiesers geregistreer het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’