MOSSELBAAI NUUS - Een van die groot rolspelers in die bewaring van Mosselbaai se erfenis, wat hom die jare negentig hier kom vestig het, se voetspore deur die dorp waarvoor hy passievol lief was, het doodgeloop.
Pieter Viljoen (79) die stil, statige gryskop man met sy kenmerkende ronderaambrilletjie, wat Mosselbaaiers klokslag in Blandstraat sien afstap het Punt toe om die geskiedkundige begraafplaas te gaan toesluit om dit teen graffitikunstenaars en grafskenders te beskerm, is op 24 Mei oorlede.
Viljoen se roudiens word môre, 1 Junie om 10:30 in die Dias Museum gehou.
Wie was Pieter Viljoen?
Viljoen was aan baie Mosselbaaiers bekend as 'n wandelende geskiedenisboek en 'n kenner van die plaaslike argitektuur. Hy het jarelank 'n sleutelrol in die Erfenisvereniging op Mosselbaai, asook ander bewaringsgerigte organisasies gespeel. Viljoen was 'n suksesvolle gastehuiseienaar in Montagustraat en is in 2010 benoem as Mosselbaai se burger van die jaar deur die Rotariërklub.
By sy afsterwe, het dit egter geblyk asof Viljoen 'n waarlik interessante lewe gelei het voor hy op Mosselbaai kom woon het. Dit blyk veral ook uit reaksie op sosiale media nadat die nuus van Viljoen se afsterwe rugbaar gemaak is.
Baie kommentators onthou hom onder andere as 'n lektor aan die hotelskool waar hulle studeer het en waar hy 'n lewensveranderende effek op hulle gehad het.
Uit ou foto's, blyk dit of Viljoen tydens sy studie in Europa, in Italiaanse modetydskrifte gepryk het.
Soos in elke lewe goed geleef, is daar verskillende hoofstukke, die een so interessant soos die ander.
Lees in volgende week se uitgawe van die Mossel Bay Advertiser meer oor die lewe van Pieter Viljoen.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'