Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Dias Museum, 'n gebou propvol geskiedenis in Mosselbaai, het op Vrydag, 3 Februarie sy 34ste verjaardag gevier.
Die museum se slagspreuk is "the place where cultures meet".
FOTOGALERY: Dias Museum vier 34 jaar
Denise Lloyd, voorsitter van die Vriende van die Museum en lid van die Uitvoerende Bestuurskomitee en wat as programdirekteur opgetree het, het beklemtoon dat feesvieringe van 'n gesamentlike geskiedenis, die klem is van dié verjaardagviering.
Die museum skep 'n platform waar kulture bymekaar kom en deur sang, dans en opvoerings alle gemeenskappe betrek.
Hierdie jaar is die verjaardag afsonderlik en nie as deel van die bekende Diasfees wat nie plaasgevind het nie, gehou en was daar nie verteenwoordigers van Portugal, Indonesië of Frankryk nie.
Lede van die oorspronklike Koeries (GoriAis) en Gqona (Gonna) families wat in die omgewing was toe Dias hier aangeland het, het die verrigtinge bygewoon en toesprake gelewer.
Lloyd sê "Elke lid van die gemeenskap het 'n stem wat jy kan gebruik, maar ons moet ook ander kulture respekteer. Die verjaardagvieringe is 'n plek vir feesvieringe en nie die gepaste platform vir politieke toesprake of klaagliedere nie."
Sy vervolg: "Een van die sprekers het gesê, 'what makes me sad, makes other people mad.' Dit som 'n groot deel van ons geskiedenis op."
Spanning wat tydens die toesprake opgebou het, is ontlont met sang, dans en toneelopvoeringe en die sny van die verjaardagkoek.
Die reuse-koek is oudergewoonte deur die span van De Vlaming Bakkery in Heiderand gebak en was soos altyd 'n hoogtepunt by die feesvieringe.
Groot feesvieringe het in 1988 plaasgevind met die 500 jaar herdenking van Bartholomeu Dias en sy reisgenote wat hier aangedoen het en Mosselbaai "ontdek" het.
'n Replika van Dias se Karveel het in 1988 van Portugal na Suid-Afrika gevaar en beklee nou 'n ereplek in die museum.
Carike Keuzenkamp, bekende Afrikaanse sangeres, wat die oorspronklike Dias-lied vir die 1988 feesvieringe gesing het, het die museum verlede week besoek en met heimweë vertel van die wonderlike ervaring om die lied tydens die feesvieringe in 1988 vanaf die boeg van die karveel te sing.
VIDEO - The Amagqiyazana dancers from Isalathiso Primary School performs at the Dias Museum's 34 birthday.
Die koning van die Gqona (Gonna) Hessekwa-stam, Cornelius Botha lewer 'n toespraak tydens die verjaardagvieringe.
Die koninklike familie van die GoriAis-stam (Koeries-familie) kom by die Dias Museum aan vir die feesvieringe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'