MOSSELBAAI NUUS - Die Mossel Bay's Got Talent (MBGT) soektog vir plaaslike talent het verlede Vrydag op Brandwag begin.
Hierdie talentsoektog is vanjaar in sy 11de jaar en word deur die Mosselbaai-munisipaliteit aangebied. Volgens die organiseerders, is hierdie egter meer as bloot 'n talentkompetisie.
"Dit is 'n vertoonvenster wat ten doel het om 'n platform vir jong, onbekende kunstenaars te skep. Dit dien ook om jongmense bewus te maak dat daar wel alternatiewe aktiwiteite bestaan eerder as alkohol- en dwelmmisbruik, geweld, misdaad en die ander sosiale euwels wat maai onder die jeug."
Brandwag was slaggereed tydens die oudisies en 'n stampvol saal het die beoordelaars en organiseerders ingewag. Elf jong kunstenaars het aan die oudisies deelgeneem en die gehoor vermaak. Die kompetisie was sterk, maar die beoordelaars kon nie almal deursit na die semi-finaal nie. Suksesvolle deelnemers is FAM Makers Reloaded, Peter-Dimon en ROD en sal by die semi-finaal op 23 Mei optree.
Die kompetisie is oop vir alle inwoners van Mosselbaai tussen 14 tot 35 jaar oud. Registrasie is gratis.
Inskrywings vind plaas op die dag van die oudisies by die bepaalde gemeenskapsaal waar dit gehou word. Registrasie is vanaf 16:00 tot 18:30. Teen 19:00 begin die oudisies. Deelnemers wat nie die eerste oudisie slaag nie, kan vir nog een oudisie inskryf by een van die 'n ander venues. Die volgende oudisies vind vandag, Vrydag 13 Maart, by die gemeenskapsaal op Groot-Brakrivier plaas. Die borge vir 2020 is die Garden Route Casino-gemeenskapstrust, SA Concerts, Mossel Bay Advertiser en CLIQUE CLIQ. Enige ander besighede wat graag betrokke wil raak, sal verwelkom word.
Vir meer inligting of navrae, kontak die munisipale jeugkantoor (044 606 5224/9) of stuur 'n e-pos na yvanaswegen@mosselbay.gov.za
Brandwag se blinkste sterre (voor van links na regs) Peter-Dimon, FAM Makers Reloaded, ROD en (agter, van links na regs), beoordelaars Keenan Kieka, Hidmeyka en Attie.
Verwante artikel: Talentsoektog begin hierdie week
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'