Brandbestryders vebonde aan die Mosselbaai Brand en Reddingseenheid werk steeds onverpoos om die veldbrand by Danabaai te blus. Die helikopters word steeds ingespan om brandpunte wat nie per voertuig of te voet bereik kan word nie, met waterbomme te bestook. Volgens terugvoer is die brand grootliks onder beheer en vorder die opruimingsoperasies besonder goed.
Die wyksraadslik vir Danabaai, mev Marie de Klerk, en die uitvoerende bestuur van die Mosselbaai munisipaliteit het hul dank teenoor die brandbestryders en hul ondersteuningspersoneel uitgespreek vir die onbaatsugtige wyse waarop hulle nou reeds vir meer as twee onverpoos werk om die talle brande in die omgewing te blus.
“Mense het van sover as Groot-Brakrivier gekom en dit is bemoedigend om te sien hoe die gemeenskap met brandbestryders en die buurtwag saamgewerk het in die krisistye,” aldus mev De Klerk.
Intussen waarsku die Mosselbaai Munisipaliteit se Direkteur Gemeenskapsdienste, mev Elize Nel, motoriste om uiters versigtig op die paaie in die area waar dit gebrand het te ry.
“Sowat 10 000 tot 12 000 hektaar in die Brandwagomgewing het groot skade in die onlangse brande gely en boere is benewens weiding ook baie van die grensdrade kwyt. Motoriste moet uiters versigtig bestuur omdat die risiko bestaan dat diere oor die paaie kan beweeg.”
Beide inwoners en vakansiegangers word weer eens daarop gewys dat die afskiet van vuurwerke in die Mosselbaai munisipale area baie streng verbied word.
“Die enigste perseel waarvoor amptelike toestemming vir vuurwerke toegestaan is, is op Oujaarsaand op die strandgebied in Hartenbos. Vuurwerke wat onbeheersd afgevuur word, kan bydra tot die onnodige verdere risiko vir brande. Almal word gevra om hul samewerking in hierdie verband te gee.”
Die Mosselbaai munisipaliteit bedank graag almal wat ruimskoots gehelp het met die hantering van die groot aantal brande in die omgewing die afgelope 14 dae.