MOSSELBAAI NUUS - 'n Ses-en-dertig-jarige man wat van die verkragting en seksuele aanranding van twee bejaarde vroue by Adler's Nest op Aalwyndal, Mosselbaai verdink word, verskyn op 1 Oktober in die Mosselbaai-landdroshof om formeel om borgtog aansoek te doen.
Die verdagte bly intussen in aanhouding.
Hy staar reeds bykans 12 aanklagte, wat insluit die besit van kinderpornografie, seksuele aanranding en verkragting in die gesig.
Die gruwelike dade het aan die lig gekom nadat 'n 76-jarige inwoner van Adler's Nest, waar onder meer Alzheimer pasiënte woon, aan personeel vertel het dat 'n man hom aan haar deur haar kamervenster ontbloot het.
Die beskrywing wat sy van die man gegee het, het aan die identiteit van die werknemer wat in hegtenis geneem is voldoen.
Die polisie en bestuur van Adler's Nest het ondersoek ingestel en op bewysstukke op kameras afgekom wat in die inwoners se kamers geïnstalleer is.
Nadat die polisie op die verdagte se selfoon beslag gelê het, het hulle op foto's van kinderpornografie afgekom. Die verdagte het ses maande gelede op Mosselbaai aangekom nadat die bestuur van Adler's Nest hom probeer help het deur vir hom werk aan te bied. Hy was egter belet om in die tehuis te kom.
Die verdagte kom van Hermanus en was glo op straat voor hy die werk by Adler's Nest gekry het.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'