MOSSELBAAI NUUS - ‘n Boom wat deur Mosselbaaiers, Koos en Meisie Gericke in 1988 by hul woning in Stinkhoutstraat op Heiderand geplant is, het gisteraand ontwortel nadat die gebied deur sterk wind- en reën getref is.
Intussen gaan munispale werkers vandag voort met herstelwerk aan skade wat in die gebied aangerig is.
Teen vanoggend is 17.8mm op Mosselbaai gemeet, met nog reën wat val.
Die Mosselbaai Hawe het bevestig dat ‘n rukwind van soveel as 70 knope gisteraand gemeet is.
Mosselbaaiers het foto’s geneem van vriesreën oftewel ysreën wat in die Diasstrand gebied geval het.Ysreën verskil van sneeu en hael. Dit word in koue weer gevorm wanneer reën vanuit ’n wolk deur ’n laag baie koue lug naby die grond val en die reëndruppels verys. Dit gebeur egter baiemaal dat nie al die reën in ys verander voordat dit die grond bereik nie. Die fyn ys en reëndruppels is dus vermeng, vandaar die naam ysreën.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'