Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Boere in die Tuinroete-omgewing het Vrydagmiddag, 30 Junie, in Reebok met die Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers en van sy departementshoofde vergader om die swak toestand van grondpaaie en die gebrek aan instandhouding van infrastruktuur in landelike gebiede, te bespreek.
Henry Meyer, streeksverteenwoordiger Agri-Weskaap, sê die haglike toestand van die grondpaaie en swak onderhoudswerk aan infrastruktuur lei tot geweldige ekonomiese verliese vir landbouers, besighede en inwoners van die gebiede.
FOTOGALERY: Boere in die Tuinroete-omgewing
Weens die hoë reënval in die streek sedert Mei, is die toestand van paaie gevaarlik en dikwels onbegaanbaar, ook weens laagwaterbrûe wat verstop is omdat dit nie gereeld skoongemaak word nie. Meyer sê die reën is wel verantwoordelik vir die skade, maar dat die groot probleem die swak onderhoudswerk is wat oor jare gedoen is.
"Ons het alles op skrif vir hulle gegee en ook met voorstelle gekom hoe om die probleme aan te spreek. Die Distriksmunisipaliteit gebruik dikwels die verskoning dat hulle 6 000km se paaie moet onderhou. Maar daar is net sowat 10% wat dringend aandag moet kry. Dit is meer 'n bestuursprobleem. Die dreine word nie skoongemaak nie, want die mense wat dit moet doen, sit saam met die padskraper-operateur in die kajuit. Ons wat hier leef en ry, sien die goed gebeur."
Meyer sê hulle het ook raad gegee om die verkryging van gruis te vergemaklik. Gruis is van kardinale belang vir die instandhouding van die paaie. Die meeste paaie se bolaag bestaan uit gruis. Wanneer dit afgery of geskraap word, dra dit by tot die vinnige verwering van die paaie. Ongelukkig is gruisgroewe op nasionale vlak toegemaak en word daar 'n mynlisensie wat baie duur is benodig om gruis te verskaf. Meyer sluit af: "Ons het nou gedoen wat ons kan en hoop regtig dat daar spoedig opgetree word om die verliese wat ons lei, te bekamp."
VIDEO - Henry Meyer, streeksverteenwoordiger van Agri-Weskaap het die Advertiser vir 'n rit geneem om te sien hoe lyk die paaie.
Video: Alet Engelbrecht
Terugvoer van departement
Die hoof van die provinsiale departement, Jackie Gooch, het landbouers die versekering gegee dat beter samewerking sal volg en dat sy reeds in gesprek met die provinsie se regsverteenwoordigers is om nouer bande deur geformaliseerde ooreenkomste te smee. Sy het haar vertroue uitgespreek in vennootskappe en gesê, indien nodig, sal werk geherprioritiseer word nadat haar kantoor met die provinsiale padingenieur se kantoor in Oudtshoorn oorleg gepleeg het.
Gooch het aangedui dat ondersoeke sal volg na gruisgroewe, hoewel nasionale wetgewing die ontginning daarvan beheer en het ook genoem dat die provinsiale regering ondersoek instel om een breker per distrik te vestig om probleme aan te spreek aangesien dit nie lonend is om materiaal vir die herstel van paaie na die distrik te vervoer nie.
Hoewel dit aanvanklik baie duur mag wees, kan dit op die langtermyn die antwoord wees op die probleem met beskikbare gruisgroewe, aldus Gooch.
Sy het ook onderneem om 'n span van haar personeel te stuur om die lys van paaie met kritieke probleme wat deur die landbouers verskaf is, te ondersoek vir aanbevelings oor wat gedoen kan word om die gebreke te herstel.
Geelbeksvlei
Mossel Bay Advertiser het verlede week berig oor die motoris wie se bakkie op Maandag, 26 Junie, by die oorspoelde Geelbeksvlei-laagwaterbrug meegesleur is en wat betyds by die oop venster kon uitkom. Dieselfde laagwaterbrug het in November 2021 tot die dood van die 78-jarige Heinz Kemp gelei en landbouers en inwoners kla dat weinig sedertdien gedoen is om die behoorlike vloei van water onderdeur die brug te verseker.
Gooch het onderneem om dadelik aandag aan die situasie te gee. Die roete is belangrik vir landbouers en besighede in die distrik wie se werkers en skoolkinders die pad moet gebruik, dikwels te voet, en vir die produsente wat hul produkte daarlangs by die mark moet kry.
Landbouers belangrik vir ekonomie
Die landbouers was dit egter eens dat gebrekkige kommunikasie tussen die landbougemeenskap en die onderskeie vlakke van regering tot frustrasie lei.
Minister Simmers het die belangrikheid van die landbouers vir die wetgewer en die Wes-Kaapse ekonomie benadruk en daarop gewys dat 55% van Suid-Afrika se landbou-uitvoere uit die Wes-Kaap gegenereer word hoewel die provinsie slegs 10% van die oppervlak beslaan. Hy het verwys na die impak van omgewingsinvloede wat tradisionele landbou verander het en dat die landelike paaie nie noodwendig daarvoor ingerig is nie.
"My departement is oplossingsgeoriënteerd en wil korttermynoplossings opweeg vir 'n waarde-vir-geld model wat ook op die langer duur meer produktief sal wees."
'n Gevaarlike donga is besig om op die Ruiterbos pad na Haelkraal te ontwikkel, naby 'n skerp draai. Die paaie word ook deur vragmotors, wat melk en hout vervoer, gebruik. Foto’s: Alet Engelbrecht
Die sameroeper van die vergadering, Henry Meyer (middel), streekbestuurder, Agri-Weskaap, saam met die provinsiale LUR vir Infrastruktuurdienste, minister Tertuis Simmers en sy departementshoof, Jackie Gooch. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'