Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - 'n Inwoner van Herbertsdale, Chérie Siebert (34) is een van die top 10 boere vir die gewilde televisieprogram, Boer Soek 'n Vrou. Chérie is boonop vanjaar ook die enigste vroueboer wat aan die program deelneem.
Die Mossel Bay Advertiser het by Chérie op haar plaas gaan aanklop om meer oor haar en haar liefde vir boerdery uit te vind.
Sy verkies dat die Advertiser nie die plaas waarop sy en haar ma, Sandra (63) boer se naam noem nie.
FOTOGALERY: Boer Soek 'n Vrou se Chérie Siebert
"Daar het nou die dag 'n oom wat 72 jaar is hier aangekom en sy liefde aan my verklaar," vertel sy laggend.
Chérie is oorspronklik van Herbertsdale maar het in Fochville buite Potchefstroom gematrikuleer. Sy werk in die mynbedryf as oopgroefmynbeplanner en het tydens die Covid-19-pandemie weer voltyds vanaf Gauteng na Herbertsdale teruggetrek om haar ma met die gemengde kleinveeboerdery te ondersteun.
Sy en haar ma bly in aparte woonhuise op die plaas, waar hulle die derde geslag is om te boer.
VIDEO - Boer soek 'n vrou maar boervrou Chérie soek 'n man (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser).
Soggens vroeg klim Chérie in haar boerstewels om die diere te versorg en later die oggend sit sy haar mynhoed op. Laatmiddae woeker sy weer op die plaas waar sy en haar ma met kalkoene, bokke, skape, volstruise en varke boer.
"Ons boer basies met alles behalwe haaie - as dit reën. Ons is mense wat die weer dophou. Ons is klein genoeg om dit as twee vroue alleen te doen en groot genoeg om 'n bestaan daaruit te maak."
Pasmaat
Chérie het 'n paar jaar gelede 'n ernstige verhouding gehad maar sê die tyd was nie reg nie.
"Ek het egter nou ver genoeg alleen geloop."
Laatmiddae woeker sy weer op die plaas waar sy en haar ma met kalkoene, bokke, skape, volstruise en varke boer.
Sy is 'n uitgesproke Christen en beskryf haar ideale man as 'n man wat lief is vir die Here. Sy soek ook 'n pasmaat wat selfvertroue en selfrespek het.
"Hy moet sober gewoontes hê maar my lys is nie lank nie. Ek het ook nie 'n ouderdom wat belangrik is nie."
Op 'n vraag oor of haar toekomstige pasmaat saam met haar kan boer antwoord sy laggend: "Wanneer hier 'n man opdaag is ek daarvan oortuig dat hy asseblief nie moet boer nie. Net een van ons twee hoef so mal te wees." Chérie dra nie sommer grimering nie en beskryf haarself as iemand wat gemaklik is in haar eie vel.
Mosselbaaiers wat wil inskryf om onse eie boer-Chérie te ontmoet, kan die Boer Soek 'n Vrou-webwerf besoek. Inskrywings sluit 28 Julie.Sy is 'n uitgesproke Christen en beskryf haar ideale man as 'n man wat lief is vir die Here. Sy soek ook 'n pasmaat wat selfvertroue en selfrespek het.
'Ons bring jou jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'