MOSSELBAAI NUUS - 'n Sersant op Mosselbaai, Kay James het besluit om 'n verskil te maak in die lewe van kinders wat slagoffers van misdaad is. Kay het 'n visie gehad dat kinders wat by polisiestasies in die groter Mosselbaai omgewing weens misdaad met polisiebeamptes moet praat, troos kan vind in sagte teddiebere wat met liefde vir hulle gebrei is.
Die Mosselbaai gemeenskappolisiëringsforum het met Kay hande geneem en die Sergeant Care Bear projek is van stapel gestuur.
Verskeie inwoners op Mosselbaai het aan die kleurvolle bere begin brei en op Maandag, 2 Julie is meer as 140 bere aan die vier polisiestasies in die omgewing oorhandig.
"Die ideaal sal wees dat daar geen kinderslagoffers sal wees nie, maar die realiteit is dat kinders wel slagoffers word. Eensydige kommentaar op sosiale media skep ook nie 'n gunstige prentjie van die polisie nie en kinders luister en praat dit wat hulle by volwassenes hoor," sê Kay. Maar, nou kan hulle hierdie prentjie verander, meen Kay."
'n Beer om aan vas te hou vir kinders wat deur misdaad geraak word. Hier hou polisiebeamptes ewe lekker aan die sagte bere vas.
Met die Sergeant Care Bear Projek wil ons hierdie beertjies gebruik om vir kinders te sê, die polisieman is jou vriend, en gee om vir jou, op die slegste dag van jou lewe, het ons vir jou iets gegee om aan vas te hou en jou te troos." Kay sê sy is dankbaar vir al die vroue wat gehelp brei het. "Ons glo die projek sal vergroot en ons deel enige tyd die patroon as enigeen wat nog bere wil brei.
Kontak Kay by die Mosselbaai-polisiestasie (044 606 2800) of Deidre Swanepoel (083 561 1049).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'