Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Vyftig plus kinders gaan die res van hulle skoolloopbaan in met die wete dat daar mense is wat báie vir hulle omgee.
Dié mense - onderwysstudente aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT) - het vandeesweek op Woensdag, 7 Oktober, kinders van Asla Park toegerus met onder meer 'n inspirerende plakkaat wat hulle aanmoedig om die lewe en sy uitdagings soos 'n bul by die horings te pak.
Die kinders se ogies het geskitter toe hulle handgemaakte plakkate, persoonlik gerig aan elke kind, met slagspreuke soos You've got this; Something in you, the world needs; en Believe you can, in ontvangs geneem het.
Hiermee saam het elkeen ook 'n geskenksakkie met onder meer skryfbehoeftes ontvang.
Fotogalery: CPUT onderwysstudente inspireer Asla Park kinders
Dr. Hanlie Dippenaar, 'n dosent aan die departement Engels, verduidelik dat haar onderwysstuddente verbonde aan die Wellington-kampus as deel van hul kurrikulum by gemeenskapsprojekte betrokke moet raak.
"Service learning oftewel diensleer, wat deel van die studente se studie-uitkomste is, is wedersyds voordelig vir die student en die gemeenskap. Die gemeenskap word tydens hierdie proses in der waarheid 'n soort 'mede-dosent' vir die studente."
Kyk 'n video hieronder:
Voorheen het jaarlikse projekte 'n program in 'n korrektiewe sentrum op Wellington en geletterheidsprogram by 'n kinderhuis behels.
Covid-19 het egter vanjaar se planne belemmer. Toe Dippenaar, wat 'n huis in Danabaai besit tydens die grendeltyd plaaslik moes kom nesskrop, het sy kennis gemaak met Mary-Ann Michaels en Angelina Wagenaar.
Dié twee vroue, beide verbonde aan die Filippense Christen-gemeente in Asla Park, het in grendeltyd, toe skole gesluit en voedingsprogramme opgeskort was, die voedselnood onder kinders begin verlig.
Hulle doen dit steeds, danksy skenings van plaaslike ondernemings wat deur Dippenaar bewillig is, asook die betrokkenheid van CPUT se projekvennoot, Camissa Solutions, wat vir onder meer die MosJazz Fees verantwoordelik is.
Tydens Woensdag se interaktiewe program, het die kinders speel-speel geleer wat om in 'n mediese noodgeval te doen toe paramedikus van George, Daniel Tilley met hulle gesels het. Tilley het op 'n prettige manier die kinders weer aan die Covid-19-maatreëls ook herinner.
"As julle één ding vandag moet onthou, is dat julle verskriklik, verskriklik belangrik is," het Lovetta Bolters van Camissa Solutions aan die kinders gesê.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'