MOSSELBAAI NUUS - Sowat 280 kongreslede was verlede week, tydens die 93ste kongres van die Vroue-landbouvereniging van Kaapland (VLVK) by Misty Valley op Hartenbos, bevoorreg om te luister na die openingstoespraak van die ambassadeur van Oekraïne in Suid-Afrika, Liubov Abravitova.
Volgens haar affekteer die oorlog in die Oekraïne nie net Oekraïne nie, maar wel die hele wêreld.
"Die oorlog is nie gebaseer op waarheid nie, maar op leuens, nie op goed nie, maar op kwaad. Dis 'n geveg om oorlewing. Poetin wil Oekraïne vernietig en dit grens aan volksmoord – die kinders wat ontvoer is, is 'n bewys daarvan," het sy gesê.
Sy het beklemtoon dat dit belangrik is dat die Oekraïne die oorlog moet wen – ook met die hulp van ander lande. Sy reken dat dit die einde van hul land sal beteken as Rusland oorneem.
"In dié stadium het 200 000 vroue hul kinders en/of mans verloor en het gevlug. Hulle is egter besig om terug te kom, nie om te veg nie, maar om te bou.
Hulle onderrig hulle kinders in skuilings om hul kinders te leer van hul kultuur. Hulle glo hulle gaan wen en hul land weer opbou na die afbrekende oorlog."
Abravitova het 'n beroep op al die vroue teenwoordig en op al die vroue in Suid-Afrika gedoen om te leer by Oekraïne.
"Suid-Afrikaanse vroue moet Oekraïnse vroue bystaan, want hulle het alle ondersteuning en gebede nodig."
Sy was vergesel deur haar man, Bejamin Maekopo. Hy was bevoorreg om sy verjaarsdag saam met al die kongreslede te kon deel. Mev Elize Locke, Sirkelpresident van VLV-SWD het hom gelukgewens en hy is bederf met 'n heerlike wortelkoek, gebak deur, VLV-lid van Stilbaai en 'n vrolike Happy Birthday, is uit volle bors gesing deur 280 vroue.
Sonneblomme
Elke kongresganger het kuns sonneblomme (die nasionale blom van die Oekraïne) gebring en het hul dank aan die ambassadeur getoon deur vir haar daarmee te wuif. Die blomme sal met haar volgende besoek aan haar tuisland aan vroue en kinders gegee word met 'n boodskap van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland.
Die ambassadeur se optrede is afgesluit deur 'n pragtige lied deur 'n Oekraïne-koor. Die eggo's van die word Halleluja het min oë in die gehoor sonder trane gelaat.
Mosselbaai se burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, het ook gaan gesig wys by die VLVK-kongres. Links is Aydn Parrott ( kommunikasiebeampte vir die burgemeester) en regs, Sonwabo Diniso (voertuigbestuurder vir die burgemeester).
Sonja de Beer was een van die gasprekers tydens die VLVK-kongres. Sy het gepraat oor hoe 'n Karoo-plaaskind voor die TV-kameras beland het. Saam met haar op die foto is VLV-lid, Isabel Wilken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’