MOSSELBAAI NUUS - 'n Staatsaanklaer het Woensdag 'n saak in die Mosselbaai-landdroshof teen die eienaar van South Cape Fish Meal (SCFM), die visverwerkingsaanleg in Mossdustria, voorlopig van die rol geskrap omdat bewys gelewer kon word dat geen beduidende of onmiddellike skade aan die omgewing sou spruit sou die aanleg nie met bedrywighede staak nie.
Dit volg nadat die Eden-distriksmunisipaliteit (EDM) op 17 April die SCFM in 'n skrywe ingelig het dat hul aansoek om 'n hernuwing van hul lug-emmissielisensie afgekeur is.
Volgens daardie skrywe het die EDM die SCFM opdrag gegee om aktiwiteite wat verband hou met die verwerking van kategorie 10-dierprosesse teen 30 April te staak en om teen 25 Julie die fabriek te sluit.
Ná verskeie verdere klagtes in die week van 16 April by die distriksmunisipaliteit aanhangig gemaak is, is 'n voldoeningskennisgewing egter aan die SCFM uitgereik en het die polisie op 20 April 'n kennisgewing op die eienaar beteken om op Woensdag, 2 Mei in die hof te verskyn.
Op 26 April is geaffekteerde partye deur die distriksmunisipaliteit ingelig dat, na oorlegpleging tussen die EDM-regsdienste en die distriksmunisipaliteit se munisipale bestuurder daar besluit is om 'n vergunning te maak sodat die fabriek tot 31 Mei mag funksioneer om bestaande gekontrakteerde bestellings te kan voltooi.
Dit is as onbillik beskou dat die fabriek alle produksie moet staak binne slegs 17 dae na die kennisgewing dat die fabriek se lug-emmissielisensie geweier is.
Die SCFM het 'n appél betreffende die hernuwingsaan-soek vir hul lug-emmissielisensie aan provinsiale owerhede gerig en het die EDM munisipale bestuurder versoek om toe te laat dat die fabriek mag produseer tot 30 dae ná dié appél.
Die EDM munisipale bestuurder is ingevolge Artikel 62 van die Munisipale Stelselswet (Wet 32 van 2000) die appèl-owerheid. Die EDM het ook aan geaffekteerde partye berig dat die SCFM intussen en tot en met 31 Mei baie streng gemonitor sal word en dat die reg voorbehou word om alle bedrywighede onmiddellik te staak sou die fabriek nie die lug-emmissievereistes nakom nie.
Personeellede van die Southern Cape Fish Meal-vismeelverwerkingsaanleg in Mossdustria, staar werkloosheid in die gesig wanneer die aanleg gedwing word om te sluit. Foto: Nickey le Roux
Dilemma
Volgens die SCFM, het die polisie-optrede op 20 April 'n dilemma laat ontstaan aangesien daar geen vullisaanleg in die omgewing is waar onverwerkte vis- of diere-afval wettig gestort mag word nie. Die enigste stortingsterrein waar hierdie afval hanteer kan word, is by Vissershok in Kaapstad of in Port Elizabeth.
Die fabriek is gekontrakteer om sekere volumes diere-afval te aanvaar, dit veilig te verwerk as proteïenbron vir dierevoeding soos hondekos, en om die verwerkte produk aan hul kliënte te lewer.
Boonop, is berig, staan daar sedert 20 April 'n ketel vol onverwerkte vis wat nie verder deur die aanleg gestuur kan word sonder om dit te kontamineer nie. Dit kan ook nie bloot uit die ketel verwyder word nie.
Wat doen SCFM?
Die SCFM verwerk vis- en ander diere-afval soos volstruisvleis na 'n meel. Dit is die enigste sterilisasie-aanleg in Suid-Afrika wat hipo-allergeniese vleis- en beenmeelvervaardig vir die plaaslike mark vir troeteldiere wat allergiese reaksie toon teenoor ander proteïenbronne in hul voer.
Die gebruik van ware proteïen, slegs uit dierlike oorsprong verkrygbaar, gee aan die diere in veevoer al die noodsaaklike aminosure en vetsure nodig vir groei, asook minerale soos kalsium en fosfate afkomstig van die beenkomponent van die meel. Dit is onontbeerlik vir troeteldiere vir optimale groei en gesondheid.
Die SCFM werksmag het Woensdag voor die Mosselbaai-landdroshof 'n plakaatbetoging gehou om beswaar te maak teen die sluiting van die aanleg.
Nut van herwinning
Slegs sowat die helfte van enige dier of vis word vir menslike gebruik aangewend. Die res moet verantwoordelik en volhoubaar verwerk word. Selfs al sou die afval gestort word, sal dit deur vlieë en brommers gesondheidsrisiko's veroorsaak. Mosselbaai lewer deur die visbedryf en volstruisbedryf onverwerkte diere-afval wat verantwoordelik hanteer moet word.
Die vismeelfabriek lewer dus 'n noodsaaklike diens aan die verwante bedrywe. Daarbenewens bied die fabriek aan 33 persone 'n permanente werk, en bied indirekte werksgeleenthede aan talle transportryers, ingenieurswerke en dierevoedingsfabrieke.
Die SCFM lewer 'n direkte bydrae van minstens R15 miljoen tot die plaaslike ekonomie en bespaar belastingbetalers heelwat deur afval te verwerk wat andersins op munisipale stortingsterreine sou beland.
Boonop maak hul bedryf dit moontlik dat 100% van 'n dier of vis verwerk word en dra dit by tot voedselsekerheid en verskaf noodsaaklike proteiene aan die landboubedryf.
Terwyl die dorp enersyds planne beraam om 'n visplaas in die omgewing te vestig waar tot 3 000 ton vis per jaar verbou kan word, ontstaan die vraag noodwendigerwys waar die afval van visverwerkingsaanlegte verwerk sal word?
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'