MOSSELBAAI NUUS - Op Dinsdag, 20 Maart ontmoet ek afgetrede brandweerhoof Louis Pretorius, 'n dag voor sy 83ste verjaarsdag. Ons het 'n afspraak met die huidige brandweerhoof van Mosselbaai, Joe Johnston. Louis se vrou, Cynthia is ook by.
Die span by die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste ontvang Louis hartlik en Joe se vriendelikheid lewer bewys van die kameraderie onder brandweermanne.
Louis woon reeds 25 jaar in Hartenbos Heuwels en was ten tye van sy aftrede hoof van die brandweer in Nigel. Hy het sy loopbaan in 1958 in Springs begin en is in 1961 na Nigel.
In 1968 het hy Kuilsrivier se brandweer op die been gebring. Daarna, het hy teruggekeer na Nigel en die brandweer daar vir 18 jaar gelei tot sy aftrede.
Louis het as 'n "vloerskropper" begin en is na jare se diens aangestel as brandweerhoof.
Die vriendelikheid en belangstelling van een brandweerhoof teenoor 'n ander, is opvallend. "Brandweer is in jou bloed," sê Cynthia, wat Louis deur sy jarelange diens ondersteun het.
Vloere wat blink
Met ons aankoms by die brandweer merk Cynthia en Louis dadelik op dat die vloere van die brandweerstasie steeds blink soos in die ou dae.
Louis vertel toe hy as brandweerhoof oorgeneem het, daar slegs 14 personeellede was maar ten tye van sy aftrede was daar meer as 40 personeellede. "Dit wys hoe die brandweer in daardie jare gegroei het."
"Ons het 'n geweldige groot gebied gehad wat ons destyds moes bedien. Heidelberg, Transvaal het onder ons geval en ook die dorpies tussen in," sê Louis.
Mosselbaai se brand- en rampbestuursdienste het oud-brandweerhoof, Louis Pretorius (in rooi) wat sedert sy aftrede in Hartenbos woon, met ope arms verwelkom.
In die dae toe Louis as brandweerman gewerk het was daar nie skoonmakers nie.
"Ons het self die rooi vloere by die stasie afgewas met paraffien en afgevee dan blink hy weer. Wat die tegnologie betref het dinge in die brandweer baie verander.
Joe vertel dat die brandweer vandag gebruik maak van rekenaarsisteme in die voertuie en dat die pompe nie meer soos voorheen werk nie.
"Die pompe werk nou deur 'n eenheid wat deur 'n rekenaar gekontroleer word. Alles is nou outomaties. Ons het selfs kameras waar jy binne die brand kan sien wat die temperatuur is. Die toerusting het ook baie ligter geword as destyds."
Louis sê daar was in sy tyd ook nie vroue wat by die brandweer gewerk het nie, slegs in die beheerkamer.
"Ons het beslis ook met swaarder toerusting gewerk."
Brandweertaal
Wanneer Louis en Joe gesels is dit duidelik dat brandweermanne oor hul eie taal beskik. "Die kameraderie is altyd daar," is hulle dit eens. Cynthia vertel dat daar in hulle tyd nog 'n klok bo hul bed was wat afgegaan het tydens 'n brand.
"Ek het elke keer so geskrik, Louis moes my eers kalmeer voordat hy gaan werk het. Louis-hulle het saam met die ambulanse gewerk en hulle het ook maar baie traumatiese tonele besoek. Daarom is dit goed dat hy op die ouderdom van 55 jaar afgetree het."
Louis sê hulle moes gereeld gebruik gemaak het van 'n "hoekleer" en Joey verseker hom dat die einste leer nie meer in die brandweer gebruik word nie. "As gevolg van die veligheidheidrisiko, boonop stipuleer die veiligheidswet dat jy ten alle tye aan iets vasgemaak moet wees."
Louis beduie: "Daardie leer het net so 'n haak gehad met tange. Partykeer haak die leer mooi, partykeer nie."
Joey vertel hulle het altyd die gesegde gehad: "It's the shortest ladder in the service that can go the higher reach, want jy klim van een vensterbank na 'n ander een!"
Die uniform wat Joey dra word nou deur al die brandweerhoofde in die Wes-Kaap gedra. In Louis se dae was nie net die uniforms anders nie. Ook die brandweerwaens was boonop rooi.
Aan die einde van die ontmoeting oorhandig Joey aan Louis twee skouerwapens met die Mosselbaai brand- en rampbestuursdienste se embleem. Die twee brandweerhoofde skud blad.
"Die brandweerman sal nooit uit my uitgaan nie," sê Louis.
Foto's: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'