MOSSELBAAI NUUS - 'n Negejarige meisie is die afgelope week in die Mosselbaai-streekhof kruisondervra nadat sy na bewering in 2016 naby die ingang na Danabaai verkrag is.
Die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming, en seksuele misdrywe op Mosselbaai het die verdagte, in sy vyftigerjare, kort na die voorval in 2016 in hegtenis geneem.
Volgens inligting het die slagoffer op dié betrokke dag in die pad gespeel toe sy deur die verdagte genader is.
Die polisie sê die verdagte het die meisie oorreed om saam met hom te stap.
Hy het haar na 'n beboste gebied naby die Danabaai-ingang gedwing waar hy haar verkrag en toe weggehardloop het.
Die polisie is van die voorval verwittig waarna die verdagte in die Mosselbaai-omgewing in hegtenis geneem is.
Die slagoffer het in camera getuig en het haar getuienis ná die kruisondervraging afgesluit.
Die slagoffer en haar jonger sussie is intussen in 'n kinderhuis geplaas, aangesien hulle ma meestal rondgeswerf en die kinders geen permanente of stabiele huisvesting gehad het nie.
Die saak is uitgestel na Mei wanneer die slagoffer se ma sal getuig.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'