MOSSELBAAI NUUS - Bykans 'n jaar nadat 'n 81-jarige man 'n 13-jarige meisie in sy voertuig op die parkeerterrein by die Punt seksueel aangerand het, is die beskuldigde die afgelope week in die Mosselbaai-streekhof gevonnis.
Die voorval het op 10 Augustus, 2017 plaasgevind en het skokgolwe deur die dorp gestuur.
Die onverskrokke optrede van 'n Mosselbaaise vrou het daartoe gelei dat die verdagte op dieselfde dag wat die voorval plaasgevind het, in hegtenis geneem is.
Die vrou het ten tye van die voorval met konstruksiewerkers gestaan en gesels toe sy sien hoe die beskuldigde die tiener in sy voertuig wat naby 'n roomysstalletjie geparkeer was, seksueel aanrand. Die slagoffer is glo na die voorval geld in die hand gestop waarna sy na die roomysstalletjie gestap het om 'n roomys te koop. Die vrou het die meisie voorgekeer en haar ma se telefoonnommer gevra en gevra hoekom sy toelaat dat die beskuldige aan haar vat.
Volgens betroubare bronne was die meisie se antwoord dat sy nie wil hê die man aan haar moet vat nie, en dat sy vir hom "nee" sê. Die ooggetuie het die slagoffer se ma, en ook die polisie gekontak.
Die beskuldigde het skuldig gepleit op 'n aanklag van seksuele aanranding.
Hy woon in Reebok op Groot-Brakrivier en het na bewering keel- en prostaatkanker. Die slagoffer is die kind van die beskuldigde se voormalige vriendin. Hulle is glo nie meer bevriend nie.
Die beskuldigde is gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf wat opgeskort is vir vyf jaar. Sy ouderdom en siektetoestand het as versagtende omstandighede gedien. Die hof het gelas dat sy naam in die nasionale register van seksoortreders gelys word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'