MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-dertigjarige man van Groot-Brakrivier, Enrico Michaels is op 19 Julie in die Mosselbaai-streekhof tot 35 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die moord en verkragting van Jenneline Hansen (32).
Hansen is op 8 Februarie 2018 laas deur haar ouers, Tries (47) en Hennie (50) lewend gesien toe hulle na afloop van 'n kerkbyeenkoms haar by haar huis in Wolwedans op Groot-Brakrivier gegroet het.
Om middernag het hulle 'n oproep van 'n familielid gekry. 'n Verminkte Jenneline is deur voetgangers op 'n voetpad skaars 200m van haar huis gevind. Tries en Hennie het hulle na die misdaadtoneel gehaas waar hul bebloede dogter steeds in die voetpad gelê het.
"Daar het baie bloed uit 'n steekwond op Jenneline se nek geloop. Sy was erg aangerand en boonop half naak," het Tries na die voorval aan die Mossel Bay Advertiser vertel. Jenneline is met 'n skerp voorwerp in die nek gesteek en aangerand.
Na afloop van die vonnis het Hansen se ouers gesê hulle is tevrede met die straf. "Ons verstaan dat ons dogter nie weer sal terugkom nie."
Groot-Brakrivier speurhoof, ao Gerald Rabie saam met Tries en Hennie na afloop van die vonnis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'