MOSSELBAAI NUUS - By twee geleenthede is hulp vandag verleen aan persone wat in die see in die moeilikheid beland het.
In die eerste voorval is 'n 69-jarige man van Johannesburg, wat met 'n kajak voor die Punt-area visgevang het, deur die NSRI uit die see gehelp nadat hy in vislyn verstrengel geraak het.
"Die visserman het van die kajak afgeval, verstrengel geraak in die lyn en het gesukkel om weer op sy kajak te kom. Die NSRI het hom vergesel tot by die hawe waarna hy toe terug is na die seiljagklub," aldus die NSRI stasiebevelvoerder, André Fraser.
In die tweede voorval is 'n ouerige Duitse toeris deur omstanders en lewensredders omstreeks 17:00 uit die see by Diazstrand gered.
Volgens 'n ooggetuie het dit voorgekom asof die toeris, wie se ouderdom op sowat 70 jaar geskat word, deur sleurstrome meegevoer is.
'n Persoon met 'n 'boogie' bord het dit in die see gewaag om die toeris te probeer red, maar beide het baie teen die seestrome gesukkel. 'n Gekwalifiseerde lewensredder, net bekend as Sipho, het hulle te hulp gesnel. Volgens die ooggetuie, self 'n paramedikus, het Sipho se vaardigheid hom beïndruk.
"Die jong lewensredder het alles volgens die boek gedoen. Hy het sowat 10 minute met die toeris gewerk en hom geresussiteer voordat ambulanspersoneel opgedaag het. Toe het 'n paramedikus van die ambulansdiens oorgeneem en het nooddienspersoneel gehelp om die toeris in die ambulans gelaai te kry waarna hy na die Life Bay View hospitaal hospitaal geneem is," sê die ooggetuie wat verkies om annoniem te bly.
Die woordvoerder vir die hospitaal, Elzaan Moelich het bevestig dat die toeris in die intensiewe sorgeenheid van die hospitaal behandel word. "Onder omstandighede gaan dit met hom goed."
Die voorsitter van Eden Life Saving, Gerald de Jager, maan toeriste en inwoners om net op strande te swem waar lewensredders reeds ontplooi is.
"Verlede jaar het ons lewens verloor omdat lewensredders nie ontplooi was nie. Dit moet hierdie jaar nie weer gebeur nie. Ek doen 'n ernstige beroep op die munisipaliteit om onmiddellik lewensredders op die strande beskikbaar te maak aangesien daar vandeesweek 'n paar ander voorvalle ook was waar jongmense uit die see gered moes word," maan mnr De Jager.
Hy sê jongmense is reeds daagliks op die strande al het die skole nog nie amptelik gesluit nie.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'