Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Lang rye was klaarblyklik ‘n kenmerk van die plaaslike verkiesing sedert vroegoggend.
Volgens die munisipale verkiesingsbeampte, Edward Jantjies, was daar haakplekke met die elektroniese skandeerders wat opeenhopings tot gevolg gehad het.
Sommige kiesers wat wel geregistreer het, kon nie op die kiesersrol opgespoor word nie en dit, berig Jantjies, het ook tot oponthoud gelei.
“Die reën het beslis ook nie gehelp nie en nog oponthoud veroorsaak, maar ek was heel middag op my rondtes en dit lyk of dinge begin optel.” Jantjies het by navraag gesê dat hy aanvanklik gedink het dat Mosselbaai ook die nasionale tendens van gemiddeld 25% van kiesers by die stemlokale teen laatmiddag getoon het. “Dit is nou 18:30 en dinge kan vinnig verander. Die stemlokale is besig en die weer heelwat beter. Oral tel dit op.”
Jantjies berig dat Hartenbos deurlopend vandag die bedrywigste stemlokaal was met 3300 stemme uitgebring teen ongeveer 16:00. “Wyke 6 en 8 vorder ook goed.”
Jantjies het sy kommer uitgespreek dat sogenaamd voorheen benadeelde gebiede soos onder meer D’Almeida baie stil is. Hy was voornemens om te gaan ondersoek instel na die probleem, indien enige.
Elaine van der Toorn, vryskut-fotograaf van die Mossel Bay Advertiser het een 18:30 weer by die Reebok-gemeenskapsaal aangedoen waar sy berig die wagperiode ongeveer 2 en ‘n half uur is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroeten nuus'