Strawwe mededinging het die 2013 besigheidsnominasies gekenmerk en hoewel elke besigheid 'n wenner in eie reg is, kon uiteindelik net een per kategorie seëvier, aldus mnr Van Rensburg.
Die Mosselbaai Besigheidskamer het op Woensdagaand, 27 November, Mosselbaai se besighede vir hul uitnemendheid en kompeterende voordeel vereer.
In die Kategorie Klein Sake het Jakkalsvlei met die louere weggeloop en het Jantjie Jonker waardige naaswenners Jesua Consultants en Rawson Properties getroef.
Besighede met 'n omset van meer as R20-miljoen het in die Kategorie Groot Sake gekompeteer. Hier het Mosselbaai Volkswagen die naaswenners CTM en Afrishore Shipping geklop.
Besigheidspersoon
Alombekend in Mosselbaai as restauranteur, is dit Albert Wiffen se passie om die toerismepotensiaal van die dorp kreatief te ontgin en die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Sy ander passie is om werksgeleenthede te skep en mense te bemagtig, wat andersins net maar deel van die werkloosheidstatistiek van die land sou wees. Hy verskaf werksgeleenthede aan 300 permanente personeel en 200 geleentheidswerkers gedurende die seisoen.
Hy is 'n ware entrepreneur wat geleenthede raaksien, waar ander vervalle bouvalle sien. Sy jongste projek is die herontwikkeling van die vervalle ou Mosselbaai Stasie-gebou, wat eersdaags weer as 'n bate vir die dorp sal pryk.
Sy gemeenskapsbetrokkenheid spreek uit betrokkenheid by gemeenskapsinisiatiewe. Hy is die ondervoorsitter van die Mosselbaai GPF, 'n direkteur en mede-stigter van die Mosselbaai Spesiale Aanslagarea (CID), bestuurslid van die Besigheidskamer en medestigter van die nagskuiling.
Met sakebelange soos Delfino's, Kingfisher, Ponto, Big Blu, Patrick's, Café Havanna, Villa Point, Shooters, Sea Gypsy, Kaai 4 en die Rose & Crown bottelstoor, kan hy tereg die koskoning van Mosselbaai genoem word.
Tog is sy belange veel wyer en is hy die eienaar van Bay Motors, DHL Garden Route en verskeie antieke winkels. Hy besit Point Village Hotel, Oceans Hotel, Diaz Boutique Hotel en verskaf akkommodasie aan meer as 250 residensiële en kommersiële huurders.
Mosselbaai Volkswagen
Hierdie maatskappy bestaan reeds sedert 1953 en is 'n toonaangewende markleier wat 'n nuwe dimensie aangeneem het nadat Gideon Knoetze die leisels 'n paar jaar gelede oorgeneem het. Tans is dit nie net 'n gerekende speler in die streek nie, maar steek nasionaal ander handelaars die loef af.
Mosselbaai Volkswagen word geken aan hul onvergelykbare passie vir onberispelike kliëntediens. Die besigheid se waardesisteem is onbeskaamd op eerlikheid en integriteit gebou.
Mosselbaai Volkswagen spog met talle industrie-toekennings in 'n uiters kompeterende mark: die Volskwagen werkswinkel is verskeie kere reeds aangewys as streekwenner van kliëntediens en het tweede gemeet in die land op 'n kliëntedienstevredenheidsindeks; die onderdele afdeling is onder die top 10 landwyd; die bobaas verkoopspersoon vir Mastercars 2010 tot 2012 kom uit hul span; en hulle is as Nommer Een VW handelaar in die Wes-Kaap 2010 tot 2012 aangewys.
Die heel eerste VW Tiguan in Suid-Afrika is in Mosselbaai bekendgestel en beide die eerste Toureg R1M en Amarok het in Mosselbaai verhandel, terwyl VW handelaars landwyd nog op voorraad gewag het.
Tog voorsien Mosselbaai Volkswagen die Kenani Versorgingsoord van 'n motor en is baie betrokke by gemeenskapsinisiatiewe.
Jakkalsvlei
"Jantjie Jonker het daarin geslaag om toeriste in die Tuinroete van die gebaande weë na Mosselbaai en omgewing te lok," het mnr Van Rensburg tydens die oorhandiging van die toekenning aan Jakkalsvlei se eienaar gesê.
"Hy moes aanvanklik sy brood op die water werp deur skenkings en borgskappe om sy produk bekend te stel. Daar is steeds weinig funksies in Mosselbaai waar Jakkalsvlei se reeks wyne nie aangebied word nie," het mnr Van Rensburg bygevoeg.
Jakkalsvlei se wynreeks het klein begin en aanvanklik is net 5 000 bottels gelewer. Tans lewer hierdie wynmaker 'n reeks van nege produkte, waarvan die Jakkalsvlei Coffee Pinotage en Jakkalsvlei Rose die topverkopers is.
In 2009 is die Jakkalsvlei Hanepoot as beste in die land gekroon en in 2010 is die Jakkalsvlei Rooi Muskadel as Kampioen Muskadel aangewys. Teen die einde 2012 is die Louis 57, bestaande uit vyf verskillende wyne, aan die plaaslike en internasionale mark bekendgestel.
'n Besoek aan Jakkalsvlei is bo aan die lys van 'To Do' dinge in Mosselbaai en Jantjie Jonker is daarvoor bekend dat sy hande nie vir liefdadigheid toe is nie.

Die Mosselbaai Besigheidskamer het die beste van die beste besighede op die dorp vir hul harde werk en toewyding vereer. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'