Advertorial
SAKENUUS - Hartland Akademie sluit amptelik in 2027 by die Mosselbaai-skoolgemeenskap aan - en met 'n dinamiese, gebore Wes-Kapenaar aan die stuur.
Hennie Louw (35) se ervaring in die onderwys strek oor onderrig, sport, leierskap, bemarking en strategiese ontwikkeling.
Sy loopbaan het in 2014 by Paarl Gimnasium begin. Daarna het hy internasionale ervaring by Modern Knowledge Schools in Bahrain in die Midde-Ooste opgedoen, voor hy na Suid-Afrika teruggekeer het, waar hy by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (CPUT) en Hoërskool Hugenote betrokke was.
"My internasionale ervaring het 'n nuwe wêreld vir my oopgemaak - veral die gekombineerde moontlikhede van tegnologie, kreatiewe denke en moderne onderwys. Ek het teruggekeer met 'n sterk begeerte om deel van die oplossing te wees en te help om onderwys in Suid-Afrika vorentoe te neem."
En dis by Hartland Akademie waar hy hoop om hierdie visie binne die konteks van Christus-gesentreerde Afrikaanse onderrig,uit te leef.
"Ek sien daarna uit om van die begin af saam met 'n span en gemeenskap 'n besondere skool te help bou. Ek glo sterk verhoudings is die grondslag van goeie leierskap en 'n suksesvolle skool. My hoop is dat kinders hier lief sal wees om te leer, Jesus sal leer ken en met wysheid en karakter toegerus sal word vir waar God hulle eendag roep."
Dié toekomstige Hartenbosser het sy kinderjare in die Paarl deurgebring. "Ek was gewoonlik buite met 'n rugbybal, op my fiets in die berge of op 'n plaas saam met vriende."
As volwassene lyk dit nie veel anders nie, behalwe dat hy nou ook gelukkig getroud en 'n pa van twee is. Sy vrou, Suné, en kinders, Nina (5) en Daniël (1), sluit natuurlik saam met hom by die Hartenbos- en Hartland-gemeenskap aan.
Hartland Akademie se nuwe skoolhoof, Hennie Louw, sy vrou, Suné, en hul kinders, Nina en Daniël.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’