MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-besigheidskamer neem weer eens die voortou deur volgende week 'n streekskonferensie aan te bied wat dorpe in 'n radius van 280km sal betrek om die streek se ekonomie ernstig onder die loep te neem.
Die organiseerders beoog dat die konferensie, wat van 14 September oor twee dae strek, daartoe sal lei dat duplisering, selfs ongesonde kompetisie verhoed kan word wanneer dorpe in die streek nie dieselfde ontwikkelings aanpak nie.
Gesprekke sal onder meer fokus op die optimale benutting van elke dorp se unieke bates, veral ten tye van rampe soos die onlangse Knysna inferno.
Die oogmerk is dat daarop gefokus moet word dat plaaslike besighede deur plaaslike koopkrag beter ondersteun moet word, en dat die streeksekonomie daarby kan baat wanner die beskikbare koopkrag in die streek, en nie by besighede daarbuite nie, aangewend sou word.
Deur beter saam te werk, kan effektiewe kruisverwysing tussen besighede - veral in die toerismebedryf - juis tot gevolg hê dat besoekers langer in die streek vertoef en heelwat meer besighede uit hul koopkrag baat.
Die besigheidskamer hoop om verteenwoordigers uit al die vernaamste ekonomiese sektore, asook van dorpe soos Bredasdorp, Swellendam, Prins Albert, Beaufort-Wes, Uniondale, Joubertina, Stormsrivier en die kleiner dorpe daarnaas te betrek. Elke besigheidspersoon en sake-onderneming in die groter area word daarom na die konferensie genooi om deel te wees van die proses wat bestem is om tot voordeel van die ganse streek te wees.
Interessante geleentheidsprekers soos oud-Springbokrugby kaptein Jean de Villiers, wat tans by 'n gerekende plaaslike besigheid betrokke is, Minki van der Westhuizen en Bun Booyens, oud-redakteur van die reistydskrif Weg en 'n dagblad, sal kundigheid vanuit hul ervaringswêreld deel.
De Villiers sal insigte deel oor onder meer sport-toerisme, asook die waarde van persoonlike bemarking. Van der Westhuizen sal fokus op geleenthede in die film- en televisiebedryf.
Hierbenewens sal insette uit verskeie industrië gelewer word, terwyl die Eden-distriksraad 'n situasie-analise van die streek sal toelig. Verteenwoordigers van die departement handel en nywerheid sal ook waardevolle insette oor besigheidsinsentiewe en geleenthede lewer.
Hierbenewens sal ruim geleentheid gegee word vir netwerk en gesprekvoering.
Belangstellendes kan 'n e-pos rig na admin@mosselbaychamber.co.za
Die volledige program is op die webtuiste by www.mosselbaychamber.co.za beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'