LANDBOUNUUS - Villiers Loubser is op Woensdag 15 Oktober as Agri Wes-Kaap se nuwe president verkies tydens die organisasie se 2020 Jaarkongres wat aanlyn aangebied is.
Loubser is ‘n graanprodusent by Durbanville. Hy volg Cornie Swart op wat sedert 2011 as president gedien het.
Loubser volg in die voetspore van sy pa en oupa, wat ook as presidente van Agri Wes-Kaap gedien het.
Heinie du Toit is as nuwe vise-president verkies. Hy is ‘n vrugteprodusent by Ceres in die Koue Bokkeveld en het sedert 2015 as Agri Wes-Kaap se bestuurslid vir die Witzenberg-streek gedien. Hy volg Hugo de Waal op.
Tydens die kongres is Liam Viljoen, ‘n graan- en wynprodusent van Malmesbury en Laubscher Coetzee, volstruisprodusent van Oudtshoorn, tot onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van Agri Wes-Kaap se Algemene Sakekamer verkies.
Die uittredende president Cornie Swart het gesê hy is opgewonde om die leisels aan ‘n relatiewe jong span oor te gee.
“Julle neem ‘n sterk en vooruitstrewende organisasie oor en ek is trots en gerus oor die hande wat nou die leisels gaan vashou. Ek weet julle verstaan die hart van die landbou en ek wens julle alle voorspoed toe," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'