LANDBOU NUUS - Vleisbeesboere en ander belangstellendes kan vanjaar weer gratis by kenners kers opsteek by die jaarlikse Vleisbeesinligtingsdag op Vrydag 13 Oktober tydens Agri-Expo Livestock op Sandringham buite Stellenbosch.
Vanjaar se program sluit sprekers van oor die land in, waaronder dr. Gillian Declercq, staatsveearts by die Gautengse department van landbou en landelike ontwikkeling. Sy sal haar kennis deel oor hoe boererate as eenvoudige oplossing vir algemene kwale by plaasdiere ingespan kan word – ideaal vir kleinboere wat nie altyd toegang tot veeartse het nie.
Ander sprekers
• Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleis Produsente Vereniging (RPO) oor die nuutste rooivleistendense;
• Nico Groenewald, hoof van Agribesigheid by Standard Bank oor finansiële bestuur van boerderye;
• Dr. Faffa Malan oor droogtebestuur, moontlik gemaak deur Landbouweekblad, en
• Jaco Smit, besturende direkteur van Taurus Evolution oor 'Klein getalle – Groot kampioene'.
Die program word finansieel ondersteun deur die Wes-Kaapse departement van landbou en het ten doel om vaardighede te ontwikkel, marktoegang te verbeter en volhoubaarheid te bevorder.
Die inligtingsdag vind van 09:00 tot 13:30 in die Agri-Expo-konferensiesentrum plaas.
Vir meer inligting, besoek www.livestock.org.za.